Meester beslis in Makgobas se guns

09 December 2016  Read: 278

 

Die Makgoba-stam se stryd om die grond in hul besit vir die gemeenskap se voordeel te ontwikkel, duur na twaalf jaar onverpoosd voort.

In die jongste wending is ‘n bevel deur die Meester van die Hooggeregshof in Pretoria uitgereik wat die insluiting van twee onafhanklike trustees in die nuutverkose Mamphoku Makgoba Community Trust bekragtig. Een van hulle is me Gisela Stols van Gisela Grunwald Attorneys in Rustenburg.
Dié stap maak alle transaksies wat die afgelope jaar of twee met die Trust aangegaan is, ongedaan. Dit word oor die volgende ses maande hersien, waarna nuwe vooruitsigte vir lede van die Makgoba-stam wag.

Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming (DRDLR)is die taak opgelê om die name van alle Makgoba-begunstigdes te verifieer om teenstrydighede in die samestelling van die Trust uit te skakel. Die vorige raad van trustees se dienstyd het reeds langer as drie jaar gelede verval, wat alle ooreenkomste met hulle ongeldig maak.

Limpopo se LUR vir landbou, me Mapula Mokaba-Phukwana, sal eersdaags na ‘n nuwe geintegreerde ontwikkelingsplan (IDP) van die Makgoba-gemeenskap kyk en geld bewillig vir regmatige ontwikkeling van die Sapekoe-landgoed, sê mnr Allie Maake, ‘n kampvegter vir die Makgobas.

Met die beskikbare geld in die Trust is ‘n span van tagtig werkers reeds in diens om paaie en infrastruktuur op die landgoed op te knap. Volgens Maake is die jongste verwikkeling vir die eerste keer tot voordeel vir die hele gemeenskap en nie net tot enkeles beperk nie.

Hy wou nie uitbrei oor die planne vorentoe nie, maar het laat blyk dat groot projekte binne die volgende jaar of drie die lig sal sien. Dit sal volgens hom werk vir duisende mense in die gebied skep.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first