Pinzgauers se Paul Bester oorlede

14 September 2017  Read: 93

 

Mnr. Paul Bester, voorsitter van die Pinzgauer-telersgenootskap en kuddebestuurder van die ZZ2-stoetery by Mooketsi, is oorlede. Bester is vermoedelik aan kanker oorlede.

Bester het diep spore in Pinzgauer-geledere getrap en was sedert 2006 voorsitter van die Pinzgauer- en PinZ²yl-telersgenootskap.

Hy was by ZZ2 se stoetery verantwoordelik vir die teling van PinZ²yl-beeste met Nguni-koeie en Pinzgauer-bulle. Die ras is in 2009 as dubbeldoelras geregistreer.

Bester was ook die teler van die Pinzgauerbul Heinz wat in 2016 die medewenner as die Suid-Afrikaanse Teelbul van die Jaar was.

Kundig en standvastig
Mnr. Martin Seyfferdt, bekende Suid-Afrikaanse beoordelaar en beeskenner, sê Bester was ‘n baie standvastige mens.

“As hy ‘n besluit gemaak het, was dit so. Hy was egter bereid om van ander mense te leer, ‘n mens kon met hom gepraat het.”

Seyfferdt sê Bester het ‘n groot impak gemaak deur sy betrokkenheid by Pinzgauers op internasionale vlak.

“Sy groot sukses was egter vir my sy prestasietoetsing. Hy het hier op Bloemfontein drie jaar na mekaar die fase C-klas gewen.

“Mense het werklik geluister as Paul praat. Dit was nie net sy kennis nie, hy was baie goed met wat hy gedoen het. Die ouens kon maar na hom geluister.”

Ikoniese beesboer
Mnr. Tommie van Zyl, uitvoerende hoof van ZZ2, sê Bester laat ‘n groot leemte.
“Paul Bester was ‘n beesboer in murg en been. Benewens dit was hy ook ‘n boer wat sy omgewing en al sy faktore in verband met mekaar kon sien – die beeste, ras, omgewing, mense, die nodigheid om te presteer. Vir hom was die skepping van sin en betekenis deel van sy taak as ‘n beesboer.”

Volgens Van Zyl was Bester veral gestel op die verbetering van homself, sy diere en die skepping van iets nuut.

“As jy na die werf van hom kyk waar hy met sy beeste gewerk het, kon jy sien dis iemand wat heeltyd iets skep. Hy het ‘n plaaswerf en ‘n uitnemende omgewing geskep.

Bester was benewens die Pinzgauer en die PinZ²yl ook lief vir Santas.

“Paul was die argetipe van ‘n boere, hy het naby aan die grond geleef. Ons sal Paul verskriklik baie mis. Landbouweekblad het een keer in ‘n artikel vir Paul beskryf as ‘n ikoniese beesboer. Ek dink dit is ‘n baie goeie beskrywing.”
— Corli van der Merwe
landbou.com

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first