Jaarlikse Subtropsimposium in opgewekte luim

13 December 2017  Read: 164

 

Die atmosfeer was opgeruimd by Subtrop se jaarlikse bemarkingsimposium op 8 November in Witrivier. Subtrop is die sambreelliggaam vir die avokado-, mango-, lietsjie- en (vir die oomblik nog) makadamiabedrywe. Dit is die pas afgelope avokadoseisoen wat die bedryf so vrolik stem.

Die 2016/17-seisoen is nou wel vir Suid-Afrika gekenmerk deur laer volumes, maar die verdienste op die wêreldmark (veral Europa en die VK, in ons geval) het ruim opgemaak daarvoor. Daar was stewige groei in die tradisionele avokadomarkte van Engeland, Frankryk, Skandinawië asook vinniger as verwagte groei in aanvraag by China en ander Asiese markte.

Die ondervoorsitter van die World Avocado Organisation het ‘n voorlegging gelewer oor hul aktiwiteite tydens die afgelope Europese somer. Die World Avocado Organisation (WAO) is op die been gebring deur Peru en Suid-Afrika, saam met etlike avokadoprodusente in Chile en Mexiko, met die doel om avokadoverbruik te stimuleer in Europa, ongeag die oorsprong van die avokado’s in die winkel. Vanjaar was daar in weke 21 en 31 ‘n superpiek van avokado’s op die wêreldmark, veral omdat Peru se oes vertraag is deur vloede en hulle toe hul volumes eerder Europa toe gestuur het as die VSA. Danksy hul promosieveldtogte by groot supermarkgroepe in Engeland, Frankryk, Duitsland, Noorweë en Swede, het avokadoverkope hierdie somerseisoen gestyg met tussen 35% en 45%.

Volgende jaar word nóg meer avokado’s verwag op die Europese mark, namate ons volumes hopelik terugbons ná die droogte plus nuwe boorde wat in produksie kom, met laasgenoemde wat ook geld vir avokadoproduksiestreke elders in die wêreld. WAO wil volgende jaar meer klem lê op avokadopromosies by Europese vakansiebestemmings gedurende Augustus, Europa se groot vakansiemaand.

Daar was verskeie ander voorleggings by die simposium: Howard Blight van Amorentia Kwekery het vertel van die Agricolleges-inisiatief om landbou-onderrig via e-learning aan te bied aan studente regdeur Afrika, beskikbaar in verskeie tale.

Mark Hassenkamp van die South African Macadamia Growers’ Association (SAMAC) se kwekerykomitee het verduidelik hoe die proses van kwekerysertifisering by die Seedling Growers Association of South Africa (SGASA) verloop.

Bonnie Buthelezi van Subtrop en Morongwa Sebela van Protactic het voorbeelde gewys van hul promosie-aktiwiteite van die afgelope jaar wat ook saamgeval het met die herden-king van die vyftigste bestaansjaar van die South African Avocado Growers’ Association (SAAGA). Hulle fokus op die ontwikkeling van nuwe verbrui-kerssegmente vir avokado’s. Voorts was daar ook voorleggings deur Elizabeth van Renen van die Departement van Handel en Nywerheid wat ‘n oorsig gelewer het oor Suid-Afrika se handelsbetrekkinge met spesifieke verwysing na landbou, asook ‘n praatjie deur Jaco Oosthuizen, MD van RSA Group oor die voordele van ‘n soepele vryemarkstelsel waar pryse sensitifief reageer op aanbod en aanvraag.

Onder afgevaardigdes het heelwat gesprekke gedraai om die rasse skrede waarmee avokadoboorde uitbrei, veral deesdae in die Magoebaskloof-omgewing, wat vroeër as te koud vir avokado’s beskou is. Suid-Afrika beweeg immer nader daaraan om regdeur die jaar selfvoorsienend in avokado’s te wees. Verskeie bedryfspelers in die Wes-Kaapse landbouketting het die simposium bygewoon, aangetrokke deur die sterk groei in die avokadobedryf.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first