Oom Andre Lategan sterf

03 January 2018  Read: 2128

 

Vanaf n karige begin het hy aan presisieboerdery n nuwe betekenis gegee. “Wat jy nie kan meet nie, kan jy ook nie bestuur nie”, was sy motto, en op sy plaas is alles gemeet; elke druppel water, saad, brandstof, kunsmis, produktiwiteit en tyd.

Hy het n legende geword. Boer van die jaar, en is selfs tot in Israel erkenning gegee vir sy vermoë om elke druppel te laat tel.

Wie Oom André Lategan se naam hoor, hoor in die eggo daarvan Trichardsdal, groente, papajas, boorgate, kwaliteit en effektiwiteit.

Hy het nie met sy uitsonderlike boerderytalent, sy prestasies, mening of kundigheid op sy mou geloop nie, maar waneer jy hom daarvoor gevra het, het jy altyd meer gekry as wat jy voor voorbereid was.

Uit sy groot hart het hy graag gedeel; data, statistiek, raad, ervaring, en aan wie bereid was om te leer, het hy gewys hoe.

Ek het Oom André aanvanklik met n bladskud oor die draad ontmoet, n paar jaar voordat ons bure geword het.

Dit was egter die kuiertjies in die koöperasie en na boereverenigingvergaderings wat respek en bewondering afgedwing het.

Daar was niks kompleks of gesofistikeerd aan sy raad of opinies nie, maar dit was so in die kol soos jy nie met n jaggeweer kan skiet nie.

Oor boerderytegnieke, grondeise, arbeid, markte en bemarking, watersake en innovasie. Hy was meer as net n anker in die Ofcolaco/Trichardtsdal Boerevereniging; hy was n pasaangeër en meningsvormer.

Hy het min gepraat, maar waneer hy dit gedoen het, het die lede geluister.

My herhinnering aan my wyse ou buurman van AAL Boerdery is van n songebrande man wat dink voor hy praat, met stewige hardewerk hande, en n prototipe van n eerlike, selfgemaakte suksesboer.

André Lategan is op 30 Desember 2017 in die ouderdom van 73 op Trichardtsdal oorlede.

 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first