Flink buitelandse groei van kultivar

09 April 2018  Read: 63

 

Elke jaar vind die Malumasimposium plaas om produsente, bemarkers en alle belangstellendes in die nuwe avokadokultivar in te lig oor wat in die voorafgaande jaar gebeur het met die kultivar – en daar is baie om te vertel.

Met Maluma word die kommersieel waardevolle opbrengs gemaksimeer deurdat die vruggrootte piek op tellings 12 tot 22 waarvoor die beste pryse geïn word. Aan die hand van pakstatistieke uit die omgewing, toon Allesbeste Boerdery (eienaars en ontwikkelaars van die Maluma) aan dat net oor ‘n derde van Hass-vrugte binne hierdie spektrum val – en Maluma ‘n allemintige 65%.

Dit is dan ook nie verbasend dat al hoe meer Maluma aangeplant en buitelands bemark word nie –oor die afgelope vier jaar het die hoeveelheid Hass-uitvoere elke jaar effe verminder terwyl Maluma van net oor 20,000 x 4kg kartonne in 2013 na min of meer 32,000 x 4kg kartonne laasjaar gestyg het, 3% van die totale Suid-Afrikaanse avokadomandjie vir die EU.

‘n Ander kenmerk van Maluma, is dié se besondere hittebestandheid wat die oog trek van avokadoprodusente wêreldwyd. Dr André Ernst van Allesbeste Boerdery het ‘n oorsig gegee oor die internasionale kommersialiseringsproses van die Maluma, wat ‘n oop kultivar is.

In Australië word die avokado al flink aangeplant in die bloedige warm noorde waar Hass nie aard nie, en Maluma word bemark deur die Coles-supermarkgroep in die staat Victoria, waar dit al amper ‘n derde uitmaak van hul avo-verkope. Hulle is so ingenome met die kultivar dat hulle kyk na die moontlikheid om dit vanjaar in New South Wales ook aan te bied.

Peru is tans die vlagskip-land vir die kultivar, met die meeste Malumabome van enige land (laasjaar reeds meer as 350,000 bome). “Peru is perfekte Maluma-wêreld, dit pas die Maluma soos ‘n handskoen,” het Dr Ernst die gehoor vertel. Daniel Arispe, produksiebestuurder van die Peruviaanse maatskappy TALSA – onder andere die grootste bloubessieprodusent in Peru – het die simposium bygewoon om te verduidelik waarom hulle al verby die 150,000 Malumabome aangeplant het in die woestynomstandighede van die La Libertad-streek. Hul reënval is gek – gemiddeld 15mm per jaar, maar aangevul deur van die reinste water op aarde (met ‘n EC van 0.2 tot 0.3) wat kom uit die Andesgebergte.

“Compared to Hass in our conditions, Maluma is wonderful,” meen hy. “The yield is always better than Hass. Fruit set is sometimes a problem in Peru but never with Maluma. We don’t need to use plant growth regulators and we get an earlier harvest. We’ve never had results like these.” Selfs die bye verkies Malumablomme bo dié van ander avokado’s, vertel hy.

Voorts is daar belangstelling in Maluma in Israel, waar dit alreeds aangeplant is op 16 plekke, Chile waar dit einde laasjaar kommersieel vrygestel is ná die kwarantynperiode en twee avokadoprodusente nou rieme wil neerlê met Maluma. ‘n Ander nuwe verwikkeling is dat Maluma-plantmateriaal in Kalifornië die kwarantynperiode van twee jaar begin het; Mission Produce, een van die grootste avokadobemarkers ter wêreld, is baie gretig om die kultivar in die VSA gevestig te kry.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first