Houtdiewe kry wéér pakslae

19 May 2018  Read: 789

 

Die onwettige behandeling van gesteelde houtpale in die plaaslike bosboukringe, is vandees-week ‘n harde hou gedien. Dit volg na ‘n vergadering verlede week deur lede van die Tzaneen Timber Theft Forum (TTTF) wat die groot name in die plaaslike bedryf, naamlik Tzaneng Trea-ted Timbers, Diggers Rest en Khulani Timbers, ingesluit het. Die vergadering is geroep deur MTO Lowveld se Veiligheidsbestuurder, Pieter Kruger en is aangespreek deur ‘n lid van die NRCS Beheerliggaam wat die bosboubedryf reguleer.

Die NCRS is die wetlike regeringsliggaam waaraan alle “treaters” in die bedryf moet behoort, en Botes is een van die nasionale inspekteurs. Tydens die vergadering is die epidemie van die onwettige hout-behandellaars in die omgewing, wat grootendeels deel is van die vlaag houtdiefstal uit plantasies in die streek, bespreek.

Die dag na die vergadering het Kruger en Botes op inligting gereageer en uitgery na verskeie gerugte onwettige houtbehandelingsaanlegte in die Magoebaskloof en Politsi areas. Hulle kon daarin slaag om nie minder nie as vier van hierdie aanlegte te identifiseer, die operasies stop te sit en toe te maak. Teen druktyd was daar nog geen inligting oor polisiesaaknommers en of die verdagtes gearresteer is nie.

“Ons sal weer binnekort opvolg besoeke moet reël en indien hierdie onwettige aanlegte weer operasioneel is, sal ons kriminele klagte aanhangig maak,” het Kruger gesê. “Hierdie ouens maak die industrie verskriklik seer en die verbruikers weet dit nie. Jan Publiek gee nie om waar hy sy pale aankoop nie solank die prys goed is. Later wanneer sy lapa of struktuur in een stort, gaan kla hy by die verkeerde mense. Die pale lyk wel of hul “treated” is, maar dit is gesteelde hout wat sommer met ‘n vlekstof oor die pale geverf word. Wees bedag en help ons om hierdie kriminele uit ons bedryf uit te roei deur verdagte lorries en aanlegte by die Forum aan te meld.”

Die TTTF is verlede jaar deur Kruger gevorm en lede sluit meeste van die plaaslike bosbouers en sekuriteitsfirmas in. Tot dusver het die Forum baie goeie resultate in die stryd teen hout- en veral avodiefstal in die area getoon en word daar steeds gereelde arrestasies deur die lede gemaak.

Woensdagoggend is daar gerapporteer dat ‘n avodief se voertuig op ‘n plaas in Magoebaskloof deur die boer self opgemerk is. Die boer het die polisie in kennis gestel en binne minute het hulle die voertuig geskut. Langs die bakkie is daar ook sakke gesteelde avokado’s gevind. Die bestemming van die gesteelde vrugte is nie bevestig nie, maar dit word vermoed dat die avo’s hul plek op die straatverkoperstalletjies sou inneem. Meer hieroor in die AgriBuilletin later hierdie maand.

 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first