Snotkop hou Plasies wakker

20 May 2018  Read: 71

 

Hoërskool Merensky het hul jaarlikse Opedag verlede week Vrydag vir Graad 7 leerlinge van alle Laerskole in die omgewing gehou. Tydens hierdie dag is ouers en toekomstige leerlinge (Plasies) die kans gegun om dié skool se terrein te besoek en kennis met die personeel en aktiwiteite wat by hierdie landbou skool aangebied word, te maak.

Skoolhoof, Magnus Steyn het die skool se waardes en gedragskodes aan die ouers oorgedra, waarna hul op ‘n toer deur die terrein en klaskamers, asook die koshuis geneem is. Die kinders is deur Merensky seniors, vermom as hansworse, harlekyne en sirkus ringmeesters, na die rugbyveld gelei waar hulle aan al die sportsoorte wat by Merensky aangebied word, blootgestel is.

Vandaar het die Graad 7’s in groepies opgedeel en het hul beurte gemaak om die kunstekampus (MDDA), die metaalwerk werkswinkel en die landbougronde te besoek.  Vandaar het hulle by die Plasies in die eetsaal aangesluit vir ‘n heerlike aandete voordat almal net voor sewe in die Byekorf vir die begin van die “Liggiefees” aangemeld het.

‘n Oud-Plasie, nou bekend as DJ Ecstasy het die aand se verrigtinge afgestop voor die hoogtepunt van die aand, Snotkop, die dag op gepaste wyse afgesluit het.

Met sy verskyning op die verhoog net so voor agt uur, het die dak amper letterlik van sy pilare af gelig van die histeriese gille van die ses- of sewe honderd-sterk groep tieners wat voor die verhoog saam gedrom het. Hulle was daar net vir hom.

Vir meer as ‘n uur lank het die po-pulêre Afrikaanse pop-ikoon helfte van Tzaneen se tiener gemeenskap soos klei in sy hande gehad. Verbassend was dat elke kind in die gehoor (van die jongste wat vanjaar vyf geword het tot die ouer Hoërskool kinders) en hul ouers, elke woord van elke versie van elke liedjie geken en selfs saam met Snotkop gesing het.

Na afloop van sy vertoning het Snotkop (Francois Henning) agtergebly om handtekeninge uit te deel en selfs ‘n paar “selfies” saam met sy aanhangers te neem.

“Dit was een van die lekkerste dae wat ek nog ooit op ‘n skoolgrond beleef het. En waar in die lewe kry jy die kans om saam met Snotkop ‘n selfie te neem anders as by Hoërskool Merensky? Nee wat, ek het vir my ma gesê sy kan maar solank die Plasie skooldrag aanskaf!” het een opgewonde leerling na die vertoning gesê. “Ek kom beslis volgende jaar hiernatoe!”

Klik HIER vir nog meer foto's van die aand en die Ope Dag.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first