Sekuriteitsman ontslaan

12 June 2018  Read: 506

 

James Reed (43) is verlede week uit Mediclinic Tzaneen ontslaan. Die oud-polisieman wat drie weke gelede deur gewapende rowers geskiet en langs die pad vir die dood gelos is, het amper heeltemal van sy wonde herstel.

Reed is tydens ‘n transitoroof poging naby die Tweeling brug op die R71 buite Tzaneen, deur een van die verdagtes drie keer met ‘n AK47 aanvalsgeweer in die maag en skouer geskiet. Hy het as begeleiding vir ‘n Fidelity geldwa in sy privaat motor in konfooi vanaf Tzaneen na Modjadjiskloof op die oggend van 10 Mei gereis.

Na bewering het daar ‘n groep swaar gewapende mans die geldwa ingejaag en op die bemanning losgebrand. Reed is drie keer raak geskiet. Twee patrone het hom in die rug getref en is voor by sy buik uit, en ‘n derde het sy skouer verskeur.

Gewond en bebloed het James aangehou ry en by die Magoebaskloof kruising regs van die R71 af op die Hoërskool Merensky ingangspad gedraai. Daar, het sy voertuig tot stilstand gekom.

Van die lede van die bende het Reed agterna gesit en hom uit sy voertuig in een van hul eie in gelaai. Hulle het terug gejaag geldwa toe (wat steeds op die Tweelingbrug gestaan het) aangesien Reed na bewering die enigste persoon was wat die kluis van die wa kon oopsluit.

Die bende het egter oomblikke later op die vlug geslaan en Reed uit hul motor in die veld in gegooi. Die rede hiervoor is steeds nie bevestig nie, maar daar word beweer dat ‘n aankomende polisievoertuig wat bloot per toeval oppad Tzaneen toe was, hulle moontlik die skrik op die lyf kon gejaag het.

Volgens sy ma, Annette Reed, is James reeds verlede week Dinsdag ontslaan. Die familie is tans besig met die papierwerk om James se motor te herstel wat 17 koeëlgate deur geskiet is. Hy sal ook binnekort met berading begin.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first