Hou op mors, jou morsjors!

11 September 2018  Read: 106

 

Die verwoestende brand wat Sondagoggend in die Agatha-area uitgebreek het kon moontlik baie minder skade aangerig het as dit nie was vir onwettige storting deur die publiek nie. Volgens Jaco Rautenbach van Kingsland Farming is daar tuinrommel in die munisipale brandbane in daardie area gestort. Hy reken dat die vuur oor dié brandbane gespring het en na ander dele van die area versprei het, nadat hierdie hoogs vlambare materiaal die vlamme aangehits het.

“Meeste van die brandbane op die munisipale gronde was verbasend volgens standaard gedoen,” verduidelik Rautenbach. “Die probleem is daar word tuinvullis daar weg gegooi. Binne in asook direk langs hierdie brandbane. Sondag se vuur kon dalk beperk gewees het tot net een blok, maar het reg deur die brandbaan gebrand op die vuilgoed wat daar lê.”

Rautenbach het verduidelik dat wanneer die publiek bakkie-vragte vol tuinvullis net so in die bosse langs die brandbane stort, en daar breek ‘n vuur uit, is dit byna onmoontlik om naby die vuur te kom en te blus. “Die temperature maak dit verskriklik moeilik om so vuur te beveg.”

Dinsdagmiddag het Rautenbach en sy span gemerk hoe ‘n groep mans met tuinvullis in die bosse langs Unicorn Primêre skool in ry. Hulle het die mans agterna gesit en op heterdaad betrap terwyl hul besig was om palmstompe en ander hoogs-vlambare materiaal in die bosse in gooi.

“Hierdie is nie die eerste keer wat ons vir hierdie man, John Serane, betrap waar hy onwettig sy tuinvullis so in die bosse weggooi nie. Ek het vir hom gesê hy moet die gemors onmiddelik terug laai op sy bakkie. Hy was baie ongelukkig en die agressie was daar.”

Volgens Rautenbach stel sulke gedrag die mense en huise, sowel as die skool self in gevaar. Sou daar ‘n brand uitbreek op hierdie stuk munisipale grond, sou daar honderde mense se lewens en eiendomme bedreig word.

“Dit is spesifiek tuinvullis wat hul in die velde weggooi soos blare, takke en stompe. Boom stompe brand lank en warm, en dit smeul vir lank. Ek is nie seker want ons aan hulle kan doen nie, maar dit moet gestop word. Behalwe vir die skade wat hulle aan die veld rig, skep hulle ook n massiewe brandgevaar.”

Net die dag voor dit, die Maandagmiddag, het Kingsland Farming saam met Mopani Distrik en Letaba Fire Protection Association drie groot brande in die Tarentaalrand en Deerpark area bestry. Die een brand was by ‘Triangle’ in die Deerpark omgewing en die ander twee was onderskeidelik by Kruger Berries en Beaconsfield in die Tarentaalrand omgewing.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first