‘Ons het glad nie verdwyn nie’

07 November 2018  Read: 106

 

“Ons is nogsteeds hier by Junction, ons lewer steeds dieselfde diens en produkte waaraan al ons kliente gewoond is,” het Albi Smit en Erica Pieterse oor ‘n koppie koffie aan Bulletin verduidelik. “Die enigste verskil is, ons is nou net tydelik in ‘n kleiner tuiste.”

Die twee bekendes in die Letsitele sosiale sirkels en eienaars van Orange Matters en Beauty Matters afsonderlik, verwys na die twee gastekamers wat hul tans gebruik om hul sake uit te bedryf na afloop van die verwoestende brand wat in Julie vanjaar die geliefde Letaba Junction kuierplek in puin gelê het.

Albi verduidelik dat alhoewel sy nou minder spasie het, kan sy steeds die produkte waarvoor Orange Matters bekend is, aan haar kliente verskaf. “Dit is nogsteeds presies dieselfde besigheid as voor die vuur, met die enigste verskil nou net die beperkte spasie. Ek wil graag al my bestaande kliente nooi om by ‘n koffie te kom drink en te loer na die nuwe geskenkies wat ek pas ingekry het. Daar is veral baie oulike idees vir kollegas, jou eggenoot, onderwysers of jou baas vir Kersfees. Ons het ook ‘n nuwe reeks sandale en skoene vir die dames ingekry en daar is so paar nuwe opvoedkundige speelgoed vir die kleintjies ook.”

Die populêre skoonheidsalon, Beauty Matters, is in die aangrensende kamer en bied steeds al die-selfde produkte en skoonheidsbehandelings as voorheen aan. Kliente kan nogsteeds hul afsprake bespreek tussen Maandae en Vrydae en selfs Saterdae. “Daar is nogsteeds dieselfde atmosfeer hier as tevore en ek gaan aan presies soos in die verlede. My bestaande kliente stap soos klokslag nog hier in die salon in en ek moedig enige nuwe kliente aan om my te kom sien vir enige skoonheidsbehandeling of produk wat hulle benodig.”

Beide sakevroue het groot verliese in die vuur gelei aangesien die winkel én die salon binne in die oorspronklike Junction geleë was. Alfie Viljoen, bestuurder en aandeelhouer van die Junction, het twee van hul gastekamers beskikbaar gestel vir dié twee dames om hul in staat te stel om steeds handel te dryf. Daar is groot planne in die pyplyn vir hierdie bekende landmerk in die omgewing en reeds vroeër hierdie maand is die grondwerke begin. Vir meer inligting oor die projek en die nuwer, groter, meer moderne Junction, besoek gerus Letaba Junction se Facebookblad en hou die plaaslike media dop vir verdere inligting.

Albi Smit kan op 082 926 6850 gekontak word en Erica Pieters op 082 773 7353 vir enige navrae en besprekings of bestellings.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first