Agri-Merensky boer vooruit

08 November 2018  Read: 93

 

In die laaste 4 jaar het die landbou-afdeling by Hoërskool Merensky eksponensiaal gegroei.
Daar is 5 nuwe landbouklasse, 1 tegniese sentrum, 1 landboulaboratorium en ablusiegeriewe vir seuns en dogters in AgriPark opgerig.

Beplanning vir die landboulaboratorium het reeds in 2013 begin. Omdat daar gewerk word met die Y-generasie het Hoërskool Merensky dit goedgedunk om in hul spesifieke behoeftes te voorsien deur, onder andere, dié wêreldklas laboratorium op te rig: die leerders wil nie wag nie, soek vinnige resultate, wil self sien hoe dinge werk en dit beproef, en wil hul vordering en resultate opsom om sukses te bepaal.
Vanaf 2016 het die graad 10-landbougetalle gegroei van 16 tot 62 in 2018. Graad 11-leerdergetalle het gegroei van 13 tot 32 en die graad 12-getalle het gegroei van 11 tot 17.

Vanaf 2015 bied Merensky landbou aan vir graad 8- en 9-leerders wat wildsbestuur, plantkunde, grondkunde, dier-kunde en vakkeuse inligting vir landbouwetenskap, bestuur en tegnologie insluit.
Merensky werk saam met die gemeenskap om landbou as vak te verbeter en leerder beter voor te berei. ZZ2 se Pinzgauerstoet word deur die leerders hanteer, Kunsmatige Inseminasie (KI) praktiese sessies word aangebied en skoumanskap opleiding is aan die orde van die dag.

Allesbeste help met die skool se eie avo-boord en bied Malumadag op die skoolgronde aan.
Westfalia word besoek vir praktiese ekskursies en borg die jaarlikse nasionale Tritech-ronde wat by Merensky aangebied word.

Limpopo Melkery van Louis Trichardt ondersteun en borg die opkomende Plasie-boere met ‘n enorme kuilvoerprojek. Hierdie projek het vanjaar, by die ALFA-Expo in Parys, die eersteplek in Suid-Afrika opgeraap in die Sorghum-afdeling.

RedSun voorsien die makadamia-tonnel wat eersdaags opgerig gaan word.

Mieliekloof Abattoir verskaf opleiding in slagprosesse.

Snyman Voere, Brenco Voere en Driehoek Voere tree op as borge vir die gewilde, jaarlikse Slagos-projek.
In die pyplyn vir 2019 is, onder andere, nog ‘n tegniese sentrum, ‘n 18m x 38m tonnel onder besproeiing vir makadamias, asook ‘n voertuig wat spesiaal gebruik sal word om lewende hawe na skoue te vervoer en ander takies in AgriPark te verrig.

 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first