Awa (African Wildlife Auctions) het as afslaers op Saterdag, 1 Junie by die jaarlikse wildsveiling wat deur Gravelotte Wild Produsente aangebied is, opgetree. Die veiling was by die ATKV-Eiland se amfiteater gehou en het omtrent 150 potensiële kopers van regoor die kontrei gelok. Leon Thom en Zadia Lubbe het as organiseerders vir die funksie opgetree.

Van die verkopers het plaaslike name ingesluit soos BJ Vorster, Malati, CPJ Erasmus Boerdery, Zander Osmers, Hannes Maree, Selati Game Reserve en Laeveld Sitrus. Daar was ook ‘n string groot telers van buite die provinsie wat hul diere teentoon gestel het.

Nyala’s, Blou en Rooi Duikers, Impala, Buffels en Sables is van die diere wat goeie pryse behaal het maar die hoogtepunte was Gerrie van der Merwe se Nyala bul “Big Ben” wat verkoop is vir R195 000. Daar is ook meer eksotiese spesies opgeveil ondermeer kameelperde, Suni’s en Grysbokke.

Daar is altesaam 93 lotte opgeveil met manlike en vroulike diere van die hoogste gehalte. Na afloop van die verigtinge is daar in ware Bosveld tradisie bymekaar gekom om ‘n lekker warm vuur en ‘n paar welverdiende drankies.

 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first