Hoërskool Pietersburg het op die laaste Vrydag van verlede maand die jaarlikse Limpopo Netbalkampioenskappe vir laerskole aangebied. Laerskool Tzaneen Primary het twee spanne teenwoordig op hierdie provinsiale kompetisie gehad en soos oudergewoonte het beide spanne goeie spel gelewer en weereens die Larries se dominansie op die baan beklemtoon.

Die twee spanne wat aan die kampioenskappe deel geneem het is die O/12- en die 0/13-spanne met die die O/12’s wat in die algeheel vierde plek in die provinsie hul dag afgesluit het. Die 0/13-dogters sluit hul laerskool netballoopbaan af met ‘n spoggerige algeheel derde plek.

Die O/12-span het hul dag se wedstryde met ‘n uitstekende 15-2 oorwinning teen Laerskool Krugerpark begin waarna hulle vir Laerskool Julian Muller met 10-6 en Laerskool Pietersburg-Suid met 9-8 kaf gedraf het. Laerskool Bosveld het egter die Tzaneeners se spoed gebreek om hulle hul eerste terugslag van die toernooi met nege doele teenoor vyf te bied. In die semi-finale kom die Larries weer teen Laerskool Pietersburg-Suid te staan, maar hierdie keer moes die plaaslikes die knie buig met ‘n 7-11 nederlaag.

Soos met hul voorgangers het die O/13-meisies ook hul segetog met ‘n oorwinning van 10-6 teen Thabazimbi afgeskop waarna hulle ook vir Krugerpark ‘n 10-3 loesing toe gedien het. Laerskool Pietersburg-Noord het egter die Larries met 10-17 geklop voordat hul bure, Laerskool Pietersburg-Oos die oorwinning herhaal het en met 6-8 die Tzaneeners huistoe gestuur het.

Laerskool Tzaneen het in die semi-finaal egter goeie veggees en kommunikasie ten toongestel en kon hul toernooi met ‘n 14-7 oorwinning oor Pietersburg-Suid afsluit.

 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first