‘n Aspirante sangeres vanuit ‘n plaaslike hoërskool is haar geleentheid om internasionale faam kwyt nadat ‘n fout by binnelandse sake haar van haar eerste paspoort ontneem het. Zoe Jacobs (17), ‘n leerder van Ben Vorster, is vroeër vanjaar gekies om Suid-Afrika by die Wêreldkampioenskappe vir die Uitvoerende Kunste in Los Angeles in Junie as lid van die SAATME-span te verteenwoordig.

“Op die 12de April gaan ons Binnelandse sake toe om Zoe se eerste ID en paspoort aansoek in te dien. Dit is presies waar die nagmerrie vir ons begin het,” verduidelik ma, Louisa Jacobs aan Bulletin. “By die department van binnelandse sake in Tzaneen aangekom het ons al die vorms ingevul en die foto’s geneem en die hele proses om aansoek te doen vir ‘n ID-dokument voltooi. Toe ons uiteindelik by die toonbank aankom is daar vir ons vertel dat Zoe se ID-boekie reeds by Standard bank by Canalwalk in Kaapstad afgehaal is en hulle kon dus nie ons aansoek om ‘n ID registreer nie. Ek het hulle gerus gestel dat dit nie my Zoe is nie aangesien hierdie haar eerste aansoek om ‘n ID is.”

Daar is ontdek dat daar ‘n ander Zoe Jacobs op dieselfde dag as Tzaneen se Zoe Jacobs gebore is in Kaapstad en dat beide meisies met dieselfde ID nommer uitgereik is. Louisa is vertel dat die fout by die Binnelandse sake se stelsel lê en hulle nou al moet aansoek doen om die ou id-nommer te skrap en ‘n nuwe een te laat allokeer. Al die inligting sou dan per e-pos deurgestuur word en dan sou die fout moontlik herstel word. Vorms is ingevul en aangeheg en daar is aan die Jacobs-gesin
‘n verwysingsnommer gegee.

“Ek het drie dae later terug gegaan om te hoor of die e-pos wat daar gestuur sou word al gestuur is en hoe vêr die proses nou trek. Daar is toe vir my gesê dat ek geduldig moet wees aangesien die stelsel stadig is en daar baie mense is wat gehelp moet word. Ek is ook aangeraai om die tolvrye-nommer te skakel en my verwyssingnommer op te volg.”

Na vele oproepe en besoeke aan die Tzaneen-tak het Louisa steeds nie uitklaring nie en al wat daar van haar en haar gesin verwag word is om geduldig te bly. Intussen het Zoe haar Wêreldkampioenskappe misgeloop en sal nou heel moontlik ook nie die toer na Europa toe kan bywoon nie.

“Hierdie is ‘n kwessie van uiterse noodsaaklik hierdie want afgesien van die twee toere wat sy nou misloop is daar ook matriek registrasie wat voltooi moet word voor volgende jaar. Daar is ander belangrike dinge soos om aansoek te doen vir haar rybewys wat nie kan gebeur sonder ‘n id-nommer nie. En al wat ek moet doen is geduldig wees?”

Teen druktyd gister is daar steeds nie enige verdere vordering gemaak of terugvoering oor die saak gegee nie. Intussen moet Zoe met die kennis saam leef dat haar kanse van wêreldberoemdheid deur ‘n onwetende doppelganger verbeur is – ten minste vir nou.  Bulletin volg op in volgende week se uitgawe.

 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first