AfriForum se Tzaneen-tak het Vrydag die 12de Julie vier splinter nuwe padtekens oftewel stoptekens aan die Groter Tzaneen Munisipaliteit (GTM) se verkeersdepartment oorhandig.

Hierdie skenking van vier stoptekens met pale gaan deur die verkeersdepartement se tegniese-afdeling in verskeie gedeeltes van Tzaneen se sentrale besigheidsdistrik en woonbuurte opgerig word.

Volgens Derrick Henning, superintendent van die verkeersdepartement se tegniese-afdeling, is diefstal van verkeerstekens soos dié stoptekens ‘n gereelde probleem.

“Ons moet gereeld padtekens vervang wat gesteel word. Die padtekens se pale word behoorlik staanvas gemaak met sement, maar dit skrik nie die mense af nie. Die pale word met sement en al uit die grond verwyder en heel waarskynlik aan skrootwerwe vir afval-metaal verkoop”, het Henning gesê.

Volgens Henning het iemand intussen die twee stoptekens wat AfriForum onlangs geskenk het ook reeds gesteel. Hy sê dis net ‘n kwessie van tyd voor die skuldiges gevang gaan word. Hy maan mense om hul eerder van dié misdrywe te weerhou aangesien die langarm van die gereg wel met hulle gaan opvang.

“Ons het reeds kamera beeldmateriaal van die verdagtes en maan hulle aan om eerder die gesteelde padtekens terug te besorg. In samewerking met verskeie sekuriteit maatskappye, buurtwagte en met die hulp die publiek sal geregtigheid geskied”, het Henning gesê.

David Rule en Anton Viviers van die AfriForum Tzaneen-tak is dit eens dat die vier stoptekens verseker sal help om die strate van Tzaneen te verbeter en veiliger te maak.

Afriforum gaan volgens Rule verf organiseer wat dan aangewend gaan word in samewerking met Tzaneen GTM se verkeersdepartment om straatname op randstene aan te bring.

Volgens Rule en Henning sal dit ‘n einde bring aan die steel en beskadiging van straatnaamborde en pale, asook die beslommernis en geld wat dit kos om te vervang.

 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first