Die jaarlikse NG Kerk Letsitele Kaskar wedren het die afgelope naweek weer gesorg vir groot opwinding onder die plaaslike bevolking. Die Laerskool Dr Annecke het wééreens gasheer gespeel vir hordes skoliere en toeskouers wat op die terrein toegesak het vir wat net as ‘n byeenkoms soortgelyk aan die Formula 1-reeks beskryf kan word. Hierdie is nie speletjies, dit is ernstig met deeg-like vooraf beplanning en strategie onder die “hardlopers” en die “drywers” – afgee en pitstops word beoefen en verfyn en daar word selfs aan gepaste oorlogkrete gewerk.

Ja, die NG Kerk Kaskar is die ware Jakob.

Die eerste wedren het al vroeg die oggend na die SAVF-Tzaneen Kleuterskool trompoppie-vertoning afgeskop met 10 Laerskool Junior spanne wat die baan aangepak het. Die amptenare moes wyd staan soos wat die kleintjies mekaar die stryd aangesê het om te sien wie die vinnigste tyd en die meeste rondtes kon voltooi.

Vanjaar se wenners in hierdie kategorie was die fluse spannetjie van Rainbow Combined School geborg deur Northern Pump and Pipe, wat ‘n totaal van 31 rondtes (7.4 kilometer) afgelê het. Hul beste tyd was tydens rondte nommer vier aangeteken wat hulle in slegs 50 sekondes voltooi het. Tweede was Meridian College geborg deur Letsitele Signs en in die derde plek was The King’s Court wat deur Blinkwater Meule geborg is. Alhoewel Dr Annecke 1 in die sewende posisie geëindig het, het hierdie spannetjie die hoogste spoed in hierdie ouderdomsklas van 23.1 kilometer per uur behaal.

Die kleuterskole het hul beurt om die baan gehad en daar het altesaam agt spanne mekaar in die oë gekyk. Die SAVF-Tzaneen Kleuterskool geborg deur Alliance Fruit het wéér vanjaar hierdie ouderdomsklas se resies gewen met ‘n pragtotaal van 30 voltooide rondtes en ‘n top spoed van 8.58 kilometer per uur. Hierdie spannetjie het daarin geslaag om ‘n totale afstand van 2.4 kilometer af te lê om hul geliefde skoolhoof, Annette Eastes, se twee-dekade lange loopbaan by dié skool op gepaste wyse af te sluit.

The King’s Court geborg deur NTK het die tweede plek ingeneem met Jack and Jill, geborg deur Trophy Tyres wat die derde posisie bekleë het. Die vinnigste spannetjie in hierdie wedren was die vierde plek wenners, Voetspoortjies geborg deur Lannie Motors, wat ‘n top spoed van 12.31 kilometer per uur behaal het.

Dinge het ernstig geraak net so na middagete toe die hoërskoolspanne nader staan en die groot karretjies nader getrek word. Daar was oorlogsverf, krete en dirigente met toeskouers wat bankvas op die hoofpawiljoen gesit het. Altesaam agt drywers het hul plekke ingeneem. Vier-en-twintig hardlopers staan slaggereed. Hierdie was ernstige besigheid.

Die Hoërskool Merensky – hierdie jaar geborg deur NTT Toyota - het net een span in geskryf. Maar hierdie een span was genoeg. Ten einde van die toegelate tydstip was dit die Plasies wat vir die derde agtereenvolgende jaar as die wenners uit die stryd getree het met 39 rondtes, ‘n totaal van 9.36 kilometer en ‘n top spoed van 21.66 kilometer per uur. Hierdie oorwinning was Merensky se 13de wen in die 20 jaar bestaan van die Letsitele Kaskar wedren.  

Phalaborwa se Frans du Toit 1, geborg deur Du Roi Kwekery, het tweede geëindig met 38 voltooide rondtes en ‘n totaal van 9.12 kilometer. In die derde plek was Rainbow Combined School, geborg deur Laeveld Trekkers met 36 rondtes en ‘n totale afstand van 8.64 kilometer.

Meridian College, geborg deur Wolvaardt Boerdery, het die vinnigste spoed geklok op die dag toe hulle in hul tweede rondte die 35 kilometer per uur merk verby gesteek het.

Die laaste wedren van die dag was die Laerskool Senior spanne. Twaalf spanne het mekaar hier op die baan ontmoet en ten einde die voorgeskrewe tyd was dit Rainbow Combined School, geborg deur Bosveld Smeermiddels, wat met loure weggestap het. Hierdie spannetjie het ‘n totaal van 8.64 kilometer afgelê in die 36 rondtes wat hulle voltooi het. Die tweede plek het behoort aan die span van Meridian College Tzaneen, geborg deur KM Bolt, wat 35 rondtes voltooi het met 8.4 kilometer in totaal afgelê. Die derde plek het aan die span uit Modjadjiskloof gegaan. The King’s Court, geborg deur Dole, het ‘n totaal van 33 rondtes, of te wel 7.9 kilometer voltooi.

Om al die foto’s op die dag te besigtig, gaan besoek gerus ons Facebook blad of volg ons op Instagram @Bulletintzn vir daaglikse foto’s en video plasings.

 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first