■ Vroue Landbou Unie

Dr Theo de Jager was gedurende Mei vanjaar in Luxemburg as die president van die Wêreld Landbou Organisasie (WLO) herverkies. Hy was in 2017 die eerste Suid-Afrikaner om as president van die WLO verkies te word. Hierdie organisasie word deur ongeveer 1,4 miljard boere van sowat 54 lande van regoor die wêreld verteenwoordig en asook die landbougemeenskap by die Verenigde Nasies.

De Jager het die kwessie van ‘n familieboerdery aangeraak en vertel juis waarom hierdie aspek in boerderye regoor die wêreld so ‘n belangrike rol speel.

“Hierdie jaar is die begin van die Verenigde Nasies (VN) se Dekade vir Familieboerderye. Na ʼn suksesvolle bewusmakingsveldtog deur 2014 se Internasionale Jaar vir Familieboerderye, het die VN besluit om ʼn hele dekade aan hierdie tema te wy, en daar is goeie redes hiervoor,” het Dr de Jager gesê.
Hy is van mening dat boere oral oor die wêreld die mees konserwatiewe deel van samelewings vorm, en ‘n anker vir ‘n waardesisteem vorm.

“Familieboerderye is die knooppunt van ondernemerskap en vindingryke welvaartskepping waar die wêreld dit die nodigste het, naamlik in die platteland. In geen ander bedryf word kennis, vaardighede en ekonomiese impak sterker of wyer van geslag tot geslag oorgedra, as in familieboerderye nie.”

De Jager het gesê dat familieboerderye die grootste enkele werkskepper in die wêreld is. Volgens hom skep 20 boere wat elk 100 hektaar bewerk byna dubbeld soveel werkgeleenthede as een groot boer wat 2 000 hektaar bewerk.

“Familieboerderye is die fondasie van plattelandse dorpies. Dit hou die buitestedelike wêreld in stand. Dit skep geleenthede vir boekhouers, prokureurs, onderwysers, verspreiders, verwerkers en kleinhandelaars om in klein landelike dorpe te werk, en is die naaf waarom hulle besigheid draai.”

Hy het gesê dat die stryd teen armoede, honger en werkloosheid die grootste faktor van die huidige generasie is, en volgens hom lê familieboerderye in die voorste loopgrawe in die oorlog daarteen.

“Die probleem is dat familieboerderye ʼn bedreigde spesie is, want wêreldwyd neem groter korporatiewe boerderye met die voordeel van skaal, markte en waardekettings oor. ‘n Mega-boerdery se diensverskaffers is eerder in die stad as in ʼn klein dorpie, en so word geleenthede, ondernemerskap en besluitneming dikwels buite die plattelandse gemeenskap geneem”, volgens de Jager.

Sy mening is dat groot boere groter word, en die kleineres agterweë gelaat word. Volgens de Jager is dit waarom die VN besluit het om die eweredige verspreiding van welvaartskepping en geleenthede ʼn hupstoot te gee, deur vir die volgende dekade op die vestiging en uitbreiding van familieboerderye te konsentreer. “Wanneer ons hierdie verskynsel hier ter sprake onder die vergrootglas sit, is daar ‘n paar feite wat mens van familieboerderye besef”, het de Jager gesê.

“Familieboerderye sluit ‘n baie breë spektrum in, van groot tot klein, ryk en arm, wit en swart, oud en jonk, en dek die hele politieke speelveld ook. Hulle raak wel minder, van 125 000 in 1990 tot 35 000 huidiglik. Familieboerderye is die grootste enkele teenmiddel teen verstedeliking, maar verkeer onder geweldige politieke, ekonomiese en sosiale druk, wat hulle welstand en voortbestaan bedreig.”

Volgens de Jager is familieboerderye grondgebaseerde ondernemings wat deur ʼn familie besit en bestuur word.

“En in die middel van ʼn gesin is daar ʼn ma. Sy is die gom wat ʼn ge-sin aanmekaar hou. Vroue speel vandag ʼn reuse rol in landbou. Daar is meer vroue wat boer as mans, in Afrika en Asië byna twee keer meer”, het de Jager gesê.

Van die wêreld se heel sterkste burgerlike vroueleiers buite politiek is nasionale landbouleiers soos Katie Milnes van Nieu Zeeland, Minette Batters van Brittanje, Christiane Lambert van Frankryk, die Ugandese Elizabeth Nsimadala van die East African Farmers Federation, Lone Anderson van Denemarke, Fiona Simson van Australië en Arianna Giuliodori van Italië.

“Elkeen van hulle troon uit as pasaangeërs in ʼn uitdagende tyd, van Brexit, Geelbaadjies en klimaatsonderhandelinge tot die herstrukturering van die Afrika-unie se landboustrategie.”

De Jager het verder gesê vroue is vir nog ʼn belangriker rede die spilpunt waarom landbou draai. Volgens hom is die hele landbouwaardeketting deur markte gerig.

“Boere produseer net dit wat die mark by hulle sal koop. En daardie mark is in die laaste instansie ʼn ma in ʼn gesin wat besluit wat vanaand vir ete voorgesit gaan word. Dit bring ons terug by die kern van die VN se prioriteit vir die volgende 10 jaar, die gesin se plek in die platteland, oftewel familieboerdery.

Dit is ʼn viering van die rol van die vrou, tot in die verste hoeke van die wêreld. En hier in Suid-Afrika is dit julle vroue wat help om die deurslag te gee”, het de Jager gesê.

 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first