Een van die grootste aantreklikhede van die jaarlikse Letaba Skou is sekerlik die lewendehawe afdeling. Vanjaar se Letaba Skou was geen uitsondering nie en daar was ‘n aantal spogvee wat die aandag getrek het.

Die opperste kampioenkoei van dié jaar se skou was ‘n Brahman-koei van Llewellyn Labuschagne van R10 Brahmans. Hierdie Brahman-koei het met hierdie toekenning vir deelname aan die Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskap by die ALFA-ekspo vanaf die 17de tot die 19de September op Parys gekwalifiseer.

Llewellyn Labuschagne van R10 Brahmans was vol lof vir die landbouskou van die Letaba Skou.
“Ek dink die Letaba Skou was ‘n besonderse groot sukses, as ek moet oordeel hoe goed georganiseerd en professioneel dit aangebied was. Daar was ongeveer 170 beeste op skou wat beslis ‘n goeie getal inskrywings is vir ‘n plattelandse skou. Die gehalte beeste wat hier te siene was is sekerlik van die beste in Suid-Afrika”, het Labuschagne gesê.

Hy het bygevoeg die feit dat die beoordeeling onder ‘n markiestent aangebied was dra daartoe by dat die organiseerders van die skou beslis uit hul pad gegaan het om die deelnemers te huisves.

“’n Aantal deelnemers het na afloop van hierdie skou gesê dat hulle beslis volgende jaar gaan terugkeer en met nog meer beeste. Dit weens die feit dat daar so goed na hulle en hul beeste omgesien was.”

Volgens Labuschagne is die Letaba Skou uniek omrede dit die enigste skou is waar rooi en wit Brahman beeste teen mekaar geskou word. Hy sê die Letaba Skou is ook die enigste waar alle ouderdomme Brahmans teen verskillende rasse teenmekaar geskou word, wat nog ‘n unieke kenmerk van die Letaba Skou is.

Die jaarlikse R10 Produksie en Weltevreden Veiling gaan op Saterdag die 21ste September by Castle de Wildt op Modimolle vanaf 11:00 gehou word. Van die lewendehawe wat hier te koop aangebied sal word is ondermeer 20 top stoet bulle, agt top rooi stoet bulle, 12 uitstaande grys herdsires, agt rooi Heifers en 45 grys koeie.

Vir navrae aangaande hierdie veiling op Modimolle kan belangstellendes vir Llewellyn Labuschagne (082 579 4579) of Corrie Labuschagne (082 820 4710) skakel of navrae per e-pos rig na llewellyn@rten.co.za of corrie@rten.co.za

 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first