■ Joe Dreyer

Daar is ‘n skokkende nuwe tendens wat onder die nuwe generasie ouers in Tzaneen begin kop uitsteek het. Ouers sit geen meer moei-te in hul kind se take of toesprake in nie, want daar bestaan nou webtuistes en Facebook-blaaie waar ‘n ouer kan inteken, betaal en ‘n klaar gemaakte taak per e-pos ontvang.

In Tzaneen self is daar nie minder nie, as vier mense wat hulself skaamteloos oor sosiale media as toespraak- en opstelskrywers bemark. Hierdie mense vra tussen R300 en R400 per opstel of toespraak en beloof net die beste gehalte werk vir jou bedorwe brokkie. Bulletin het besluit om hierdie mense, en die plaaslike skole te nader vir kommentaar.

“Ek het nie nou tyd om met jou hieroor te praat nie, ek dink jy soek nou net sensasie want al wat ek doen is help kinders wat nie self kan praat voor mense, of self op-stelle kan skryf nie. Nie almal is goed met woorde nie,” het die een opstelskrywer redelik onbeskof vir hierdie joernalis oor die foon gesê.

Tom Prinsloo, die eienaar van ‘n aanlyn firma in die Vrystaat, het egter aan Bulletin verduidelik dat hy nie bloot net die toesprake vir die leerlinge skryf nie, maar saam met hulle sit en deur die proses werk. “Ek skryf opstelle, toesprake, voorleggings en basies enige iets te doen met taalverwerking, nie net vir skoolkinders nie, maar ook vir groot korporatiewe instansies. Baie mense verwag dat hulle my gaan betaal en ek gaan bloot net die opstel of toespraak vir hul kind skryf, maar dit werk nie so nie. Ek help die kinders om hulle opstel te skryf of hul toesprake te verbeter. Dit is soos ekstra klasse vir die kinders.”

Anita van Rensburg is baie betrokke met die laerskoolkinders in Tzaneen, veral met die voorbereiding van toesprake vir die ATKV-redenaars kompetisies. Volgens haar doen die ouers hulle kinders ‘n geweldige onreg deur te betaal om die toesprake en opstelle geskryf te kry. “Die beoordeellaars van die ATKV-redenaars kompetisies kom vinnig agter wanneer ‘n kind se toespraak deur ‘n buitestander geskryf is en daardie kinders word gepenaliseer daarvoor. Ek skryf nie opstelle of toesprake vir die kinders nie, maar bied kursusse aan om hulle oor onderwerpe, navorsing en voorbereiding vir ‘n toespraak touwys te maak.”

‘n Facebook-blad met meer as 5 300 aanhangers, het huidiglik ‘n spesiale prys vir Laerskool take en toesprake. Hulle bied selfs vertalings aan. Bulletin het tervergeefs probeer om een van hul teenwoordigers in die hande te kry, maar die nommer het net aanhou lui.

Ons het met die plaaslike laer- en hoërskole oor die saak gepraat en nodeloos om te sê, het nie een van die skole kennis van hierdie tendens gedra nie. Die hoofde van die skole is in kennis gestel en daar sal disiplinêre stappe teen oortreders geneem word.

 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first