Inwoners van Aquapark in Tzaneen en die luukse sekuriteitskompleks van Tzangeni het hierdie week nie net met die geskeduleerde kragonderbrekings wat met trots deur Eskom verskaf is geworstel nie, maar ook met kurkdroë krane gesit. En toe die water weer terugkeer is dit onbruikbaar bruin. Ons het so paar foto’s en video’s van ons lesers af ontvang wat die onaardige watertoevoer uitbeeld.

Volgens ‘n betroubare bron by waterwese is hierdie verskynsel nie ongewoon nie. “Beurtkrag is die rede vir julle bruin water mense, kalmeer so bietjie,” het ons bron verduidelik. “Wanneer die krag so gereeld af is kan ons nie water pomp van die wal af na julle huise toe nie want die pompe werk nie. Aan die onderkant van die ‘sump’ waaruit die water na die woongebiede gepomp word, lê daar gewoonlik slik. Dit is hierdie slik wat deur gepomp het die oomblik toe alles weer aansluit na die laaste rondte beurtkrag.”

Ons bron het verder vertel dat daar reeds sewe boorgate by die damwal gesink is en dat elkeen van hierdie boorgate slegs 13 liter per sekonde water verskaf. Volgens die bron is dit nie naastenby so baie soos die 120 liter per sekonde wat deur die dam se pompe gestoot word nie, maar elke bietjie help. “Ons gaan nou begin boorgate sink by die reservoirs in die dorpsgebied ook om seker te maak dat ons mense water kry.”

Hopelik sal hierdie week se onaangename ervaring nie weer herhaal word nie. Dit nadat Bulletin bevestig het dat die nuwe munisipale bestuurder, Thapelo “Ysterhand” Matlala, reusagtige kragopwekkers hierdie week aangekoop het. Een van hierdie opwekkers is reeds op Georges Valley geinstalleer en die tweede een sal moontlik nog dié week by die pompstasie by Tzaneen damwal geinstalleer word.

Intussen het ‘n inwoner van die eksklusiewe landgoed, Golden Acres, ons ingelig dat hy reeds ‘n paar jaar daar woon en nog nooit beurtkrag daar ervaar het nie. “Ek het nog nie ‘n sekonde sonder krag gesit nie en ek kan jou waarborg die rede hiervoor is oor die helfte van Tzaneen se munisipale amptenare huise op hierdie landgoed besit. Die burgermeester en ander grootkoppe bly hier onder in die straat. Ek dink dit is absoluut onaanvaarbaar.”

 

 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first