Plasieskrywers pronk in 2017 Poort

04 December 2017  Read: 253

 

‘n Hele handvol Plasieskrywers se pennevrug is opgeneem in 2017 Poort. Hierdie publikasie word jaarliks uitgegee deur die Letterkundekommissie van Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Hoërskoolleerlinge regoor Suid-Afrika het die geleentheid om poësie en prosa in te skryf. Daarna word dit gekeur deur ‘n paneel kundiges: prof. Thys Human (Noordwes-Universiteit), dr. Daniel Hugo (Protea Boekhuis), prof. Tom Gouws (digter en dramaturg) en prof. Bernard Odendaal (Noordwes-Universiteit).  Die beste werke word in die bundel opgeneem.

Elzette van Dyk, graad 12, het nie minder as drie bydraes tot die bundel gelewer nie – haar gedig, Glo, en twee prosastukke, My Bessie en Handewerk. Haar uiteenlopende temas het ‘n volwasse aanslag en sorg vir leesgenot.

Freddie Lubbe, hoofseun 2016, se Die dag toe ek moes groet spreek reg uit ‘n tiener se hart. Marlu McLean, graad 12, bewys dat sy haar nie slegs op die Wetenskap toespits nie, maar ook ‘n skrywer van formaat is. Lees gerus haar skets, Maanlig. Imcke van Vuuren, graad 10, se Ontnugtering laat mens twee keer dink oor herinneringe en Anise Basson, ook in graad 10, se Hardloop beïndruk eweneens.

“Hoërskool Merensky is dankbaar vir leerkragte soos me. Elza van Wyk wat leerders inspireer en aanmoedig om aan kompetisies soos dié deel te neem,” het Hoof, Magnus Steyn, gesê.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first