Huise maak hart oop

07 August 2018  Read: 167

 

Gedurende die week van 23-27 Julie het Hoërskool Merensky se splinternuwe inisiatief, ‘n Trollie-dash, hom afgespeel in Die Byekorf.

Hierdie gemeenskapsprojek is aangevoor deur die 2018/2019 Uitvoerende Komitee, in samewerking met Food Lover’s Tzaneen en die Lifestyle winkelsentrum.

Die Plasies het in hul verskeie huise: Aqua, Ignis, Terra en Ventus deelgeneem.

Vier dae lank is daar tydens pouse aan trollies (vlotte) gebou en versier met herwinbare materiaal. Nie-bederfbare produkte is deur die week versamel wat in die trollies geplaas is.

Die hoogtepunt was Vrydag, toe al die huise opgewonde op Die Byekorf vergader het om die Trollie-dash te ondersteun. Die 4 spanne het hulle trollies parkeer met vyf spanlede elk wat onder luide toejuiging hul trollies volgelaai om Die Byekorf moes jaag.

Huis Ventus se matrieks het hakskene gewys en eerste geeïndig met Wynand Scholtz, Masedi Manamela, Micke Venter, Christelle Brummer en Dirk Albertyn aan die stuur.

Vrygewige Huis Ignis het die meeste kos ingesamel, terwyl Huis Terra se Tower of Terra as mooiste trollie ‘n skaduwee oor al die ander trollies gegooi het.

Huis Aqua se geesdrif het behoorlik golwe gemaak en die kroon gespan op ‘n suksesvolle barmhartigheidsprojek, Aldus me. Ada Venter, een van die UK-voogde.

Nadat die trollies vir nog ‘n week by Food Lover’s Market gestaan het, sal die inhoud ‘n beduidende verskil aan Tzaneen SAVF se spens maak.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first