Astro@BenVorster word bekendgestel

29 October 2018  Read: 344

 

Die hokkie-astrobaan by Hoërskool Ben Vors-ter is verlede Vrydag tydens ‘n gala geleentheid formeel aan die plaaslike sakesektor en die media onthul. Gaste en belanghebbendes is deur die skool, in samewerking met die Tzaneen Sakekamer, op die terrein verwelkom.

Die gasspreker vir die geleentheid was oud-Olimpiaan en nasionale hokkiespeler, Alistar Fredericks. Hy het sy eie ervaring met betrekking tot die konstruksie en instandhouding van ‘n astrobaan meegedeel en aan die skool se bestuur die belangrikheid van die nuwe fasiliteite verduidelik.

“Julle verstaan dalk nie nou dadelik die enorme impak van hierdie baan op julle gemeenskap nie, maar oor so jaar of wat sal julle die vrugte van hierdie fantastiese belegging begin pluk. Nie net sal hierdie baan vir julle as skool ‘n bron van inkomste wees nie, maar dit sal die kwaliteit van hokkie in julle omgewing drasties verhef, nie net op skoolvlak nie, maar ook vir die klubspelers.”

Astro@BenVorster word deur ‘n Astro-kommittee namens Hoërskool Ben Vorster bedryf. Piet Smit is aangewys as die voorsitter van hierdie kommittee en het namens die skool al die donateurs hartlik bedank vir hul ondersteuning met die projek. “Aan al die plaaslike besighede wat ‘n bydrae gelewer het wil ons baie dankie sê. In vandag se tyd is die nood van ordentlike sportsfasiliteite eintlik nie onderhandelbaar as ons kinders ‘n toekoms in hulle verkose sport wil hê nie. Sonder julle insette sou hierdie byna onmoontlik gewees het.”

Tzaneen Sakekamer voorsitter, Llandi van der Walt, het op haar beurt namens die Sakekamer vir beide die plaaslike koerante, Far North Bulletin en Letaba Herald bedank vir hul deurlopende blootstelling en positiewe ondersteuning. “Tzaneen Sakekamer is toegewy tot die gemeenskap en ons vertrou dat Astro@BenVorster ‘n belangrike bydrae sal lewer tot ons strewe om die gemeenskap na-der aan mekaar te bring. ‘n Geleentheid van ‘n leeftyd moet in die leeftyd van die geleentheid aangegryp word.”

Na afloop van al die formaliteite is daar af beweeg na die baan waar Eddie en Miemie Vorster (Ben Vorster Beheerliggaam), Chris Denysschen (Skoolhoof), Piet Smit (Voorsitter Astro-kommittee), Christiaan Smit (Hoofseun) en Milané Smit (Hoofmeisie) die lint geknip het om die baan offisieël te open.

Daar sal vanaand op die Astro@BenVorster baan ‘n vriendskaplike wedstryd tussen Laerskool Tzaneen Primary en Hoërskool Ben Vorster se ouers en personeel gespeel word. Almal word hartlik uitgenooi om die aangeleentheid te kom geniet.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first