Maandagaand die 10de Junie was weer tyd vir die jaarlikse talentaand by Laerskool Tzaneen. Hierdie geleentheid is volgens die skool se onderwyser en media skakelpersoon, Beaulah Pretorius, een van dié skool se grootse geleenthede jaarliks waar leerders die geleentheid kry om hul talent ten toon te stel.

‘n Verskeidenheid van items word aangebied deur hierdie talentvolle leerders. Riétte Rossouw, onderwyser en organiseerder van die talentaand, is volgens Pretorius al soveel jaar betrokke by hierdie aand. Rossouw het vertel oor haar betrokkendheid as organiseerder die afgelope paar jaar.

“Die eerste wat ek met die talentaand te doen gekry het was 2001. Die leiers het toe portefeuljes gehad en dit is die kultuurleiers wie ‘n oop talentaand gehou het. Enige leerder wie gedink het hulle het talent kon hul gawe ten toonstel”, sê Me Rossouw.

“Dit was nie so georganiseerd soos nou nie en bonop het almal dit nie baie ernstig opgeneem nie. Die aand het drie ure aangehou en daar was geen struktuur nie. Ek het gevoel dit moet meer georden geskied en ek organiseer hierdie geleentheid nou al vir die afgelope 15 jaar.”

Sy sê leerders moet ‘n inskrywingsvorm voltooi en ‘n klein fooi betaal. Die leerders moet self tuis voorberei en geen afrigting word by die skool gehou nie.

“Ons probeer om die leerders te beperk tot een item, sodat soveel moontlik leerders die geleentheid kry en ook om ‘n groter verskeidenheid van items op te voer. Sonder om ‘n uitgerekte program aan te bied”, sê Rossouw.

Sy vertel hoe oudisies eers gehou word om die leerders leiding en raad te gee en te verseker die leerders is goed voorberei om hul beste te kan gee.

“Daar was ‘n tydperk waar dit slegs tweejaarliks gehou is, maar dan het daardie jaar se graad 7 leerders uitgemis op die geleentheid. Daarvandaan dat die talentaand nou jaarliks aangebied word. Die leerders is altyd baie opgewonde oor die geleentheid en ‘n program van hoë gehalte word gehou”, sê Rossouw.

“Dis vir my heerlik om in die leerders se opgewondenheid te kan deel en hierdie platform vir hul te bied. Kultuur vloei deur my are, dus is my wens dat hierdie geleentheid vir altyd mag voortleef”, sê Rossouw.

 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first