Engelse oorheers wéér sport op TV

Ná verlede week se sokker tussen Chelsea en Manchester United drom miljoene mense dié naweek weer voor televisiestelle saam om te kyk hoe drie ander Engelse spanne meeding.

Liverpool en Real Madrid se sokkerhelde speel Saterdag in Kiëf in die eindstryd van die Europese Kampioeneliga.

Sondag speel Engeland se rugbyspan op Twickenham teen die Barbarians in ʼn wedstryd wat in Suid-Afrika deeglik bestudeer sal word omdat die Engelse binnekort teen die Springbokke te staan kom.

Daarby pak Engeland en Pakistan se krieketspanne mekaar op Lord’s in die eerste toets van hul nuwe reeks.

Superrugby, die begin van die tennis op Roland Garros, blink atletiek in Oregon en die Grand Prix in Monaco is van die ander groot sport op dié naweek se kyklys.