Astrobaan ingehuldig

16 April 2018  Read: 39

 

Die duursame astro-hokkiebaan by Ben Vorster is die naweek deur die skool se Eerste- Seuns en Dogters spanne op gepaste wyse ingehuldig. Saterdag middag het die skool se eerste jaarlikse Vossie Hokkieweek met ‘n seremoniële wedstryd tussen dié twee seniorspanne tot ‘n einde gekom.

Die Hokkieweek is aangebied deur Ben Vorster en het op die skool se bestaande bane, asook die van Unicorn, plaasgevind. Skole van sover as Middelburg het aan die week deelgeneem waartydens verskeie vaardighede aan hul oorgedra is deur Suid-Afrikaanse hokkie legende, Allistar Fredericks.

“Dit was ‘n baie goeie week vir ons en die vaardighede wat daar oorgedra is gaan elke skool wat hier teenwoordig was verseker by baat,” het Louis van Dyk, hokkie-afrigter en organiseerder, gesê. “Nie net het die kinders almal die kans gekry om hokkie te speel nie, maar daar is ook nuwe vriendskappe aangeknoop. Volgende jaar beoog ons om weer dié week aan te bied, net groter.”

Die baan se oppervlakte is nou gelê en sand is daaroor gestrooi. Dié sand, sowel as die speeloppervlakte moet nou so staan vir minstens twee weke voordat daar wéér sand oorgestrooi gaan word. Na afloop van die twee weke sal die ingeneurspan terugkeer om die kante van die “mat” vas te maak en die laaste bietjie “strykwerk” te doen.

Voorlopig word die hokkiespelers aangemoedig om op die baan te oefen en selfs te speel, so gereeld as wat hul kan, om sodoende die oppervlakte mooi glad te kry. Die baan self, is omhein en daar word netjiese toeskouer-areas opgerig langs die heining. Maatskappye word aangemoedig om te adverteer in die spesiaal-toegekende advertensie spasies langs hierdie baan wat 2,45m by 1m in grote is. Die kostes van so bordjie beloop R2 000 per jaar en meer informasie kan verkry word deur vir Marinda by Ben Vorster te skakel op 015-307-4490.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first