Plasies ploeg Dallers

22 May 2018  Read: 79

 

Hoërskool Merensky het verlede Saterdag, teen Hoërskool Ben Viljoen uit Groblersdal, op eie bodem in nog ‘n rondte liga wedstryde kragte gemeet. Die Plasies het hul tuisveld voordeel uitgebuit en hul onlangse wenstreep voortgesit, met net die tweedespan wat met ‘n telling van 25-34 die spit afgebyt het.

Die O/14A- en B-spanne het onderskeidelik 28-19 en 40-5 gewen. Die O/15A-seuns het nie op hul laat wag nie en ‘n 44-5 wen op die telbord aangeteken. Net voor die Eerstespan op die veld gedraf het, het die O/16A’s gwys wie’s baas en Ben Viljoen met ‘n allemintige 76-12 gewen. Hierdie is dieselfde spannetjie wat verlede jaar in die O/15 tweestryd met hul bure, Ben Vorster, wipplank deur die seisoen gery het.

Vanjaar sal alle oë op hierdie twee skole se O/16 spanne wees, en daar word voorspel dat daar weer vanjaar ‘n Ben Vorster / Merensky finaal sal wees. Ben Vorster se O/16’s het op dieselfde dag met ‘n telling van 99-13 met Hoërskool Florida afgereken.

Merensky se Eerstespan het die dag met ‘n 25-15 oorwinning teen die Dallers afgesluit. Delux Jooste, Moeletsi Mauwane en Ryno van Burick het drieë gedruk en Jooste het twee van die drieë verdoel, asook twee strafskoppe se punte ingepalm. Die volgende ligawedstryde word teen Hoërskool Piet Potgieter van Mokopane op Plasiepark beslis.

 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first