Die Virseker Skild wink vir die Vossies

17 August 2018  Read: 159

 

“Dit was ‘n harde game en Middelburg het ons op ons tone gehou van begin tot einde. Maar met die span wat ek nóú het, is daar geen twyfel in my dat ons die finaal teen Oos-Moot gaan vat nie.” So het Vossie-stuurman, CJ Erasmus, oomblikke na Saterdag se wedstryd teen Middelburg aan Bulletin gesê.

Die Rooimasjien het op hul A-veld voor hul tuisskare, die magtige Middelburgers vir ‘n plek in die Virseker Beker Skild finaal met nege punte geklop. Die eindtelling was 34-25 en is beklink deur ‘n pragtige drie net sentimeters vanaf die hoekvlag, deur Shima Molepo in die laaste vyf sekondes van die wedstryd. Dit was die blitsvinnige vleuel se 23ste besoek agter die doellyn sover dié seisoen.

Ben Vorster se oorwinning beteken dat hierdie span nog tot dusver onoorwonne in die toernooi, en heelbo aan hul afdeling-ranglys met 126 punte staan – ‘n feit wat vir die Vossies die sielkundige oorhand behoort te gee in die aanloop tot hul kragmeting op Tuks se velde die komende naweek.

Verlede Saterdag se wedstryd het begin met ‘n verdoelde strafskop deur Middelburg se Sithembiso Makhua in die tweede minuut van die eerste helfte. Ben Vorster was dadelik op die agtervoet en moes vinnig plan maak om terug te stry. Vyf minute later dwing Ben Vorster ‘n strafskop van hul eie af en ewenaar DJ du Preez die telbord.

Middelburg stuur tien minute later vir Nathan Lombard oor die Vossie doellyn om nog vyf punte aan die telbord te hang. Ben Vorster antwoord oomblikke later met nog ‘n verdoelde strafskop. Etlike oomblikke na die rustyd sein druk Middelburg se Unathi Poyo nóg ‘n drie om die tuisspan kleedkamers toe te stuur met ‘n 9-15 agterstand.

Die Vossie-breier, Peter Schutte, het hard met sy span gepraat. Sy kleedkamer praatjie het duidelik die nodige indruk gemaak want direk na die tweede helfte afskop het staatmaker heelagter, Jason Mulder, sy pad deur die Middelburg verdedigers gesny om sy span se eerste drie aan te teken. Du Preez verdoel en skielik neem die Vossies die voortou met een punt op 16-15.

Nie een van die spanne wou die ander die spasie gun om enige taktiese bewegings uit te voer nie en vir ‘n goeie tien minute wissel die spel tussen die helftes. Uiteindelik breek een van die Middelburgers, Rowane Skosana, deur om die telling 16-20 in die besoekers se guns te swaai. Ben Vorster antwoord met ‘n drie deur John Naudé en neem wéér die voortou met 21-20. ‘n Strafskop maak die telling 24-20 in die Vossies se guns.

Met slegs 15 minute oor op die klok, stuur Middelburg vir Unathi Poyo oor die lyn vir sy tweede drie om die telling 24-25 te maak. Die doelskop tref die dwarslat en Ben Vorster bly in die stryd. Twaalf minute verval voordat hoofseun, Christiaan Smit, ‘n gaping vind en ‘n pragtige duik-drie onder die pale plant. 29-25 met slegs vier minute oor voor die eindfluitjie en Middelburg lyk desperaat.

Die skare op die pawiljoen gaan mal. Middelburg lyk of hul gaan deurbreek, maar word gestuit en die bal is weer in Vossie-hande. Hul is op die aanval in Middelburg se gebied toe die sirene afgaan, maar dit is te laat. Shima is in volle vaart met losskakel, Sithembiso Makhua wat verpoos hom agterna sit.

Die pawiljoen se dak lig. Die Rooimasjien het dit gedoen. Hulle is deur na die eindstryd. Ben Vorster staan nou heel bo aan die ranglys in die Virseker Beker Skild afdeling. Dit beteken dat ongeag die eindstryd uitslag, die Vossies sal volgende jaar opskuif na die hoër afdeling en vir die Virseker Beker Plaat stry.

PHS, wat heel onder aan die rangorde staan, sal gerelegeer word na Afdeling B toe waar hulle dan teen ondemeer, Merensky en Piet Retief, te staan sal kom.

So lyk die puntemakers

Die angel van die Vossie-skerpioen lê in sy agterlyn versteek. DJ du Preez (Senter), Shima Molepo (Vleuel), Christiaan Smit (Senter), Jason Mulder (Heelagter) en Melvin Maake (Vleuel) het gesamentlik 564 punte vir die Rooimasjien, tydens 2018 alleen, aangeteken. Dit is gelykstaande aan 70% van die span se totale puntetelling wat tot dusver op 810 staan.

Heelbo aan die ranglys pronk die skool se bobaas skopper, Du Preez, met 207 punte waarvan 4 drieë, 21 strafskoppe en 62 doelskoppe is. Du Preez se skop gemiddeld staan op ‘n stewige 70,3% na sy 118 pogings vir die seisoen.

Molepo en Smit spog elkeen met 23 drieë terwyl die “game changer” heelagter, Jason Mulder al 13 keer agter die opposisie doellyn gaan kuier het. Die blitsige vleuel, Melvin Maake spog met 10 drieë en een doelskop.

Verlede Saterdag se wedstryd het wééreens bewys dat die Vossie agterlyn nie ‘n halwe kans gegun moet word om spoed op te tel nie. Mulder se vermoë om die spel van agter te lees is ‘n onmisbare element in die Vossie arsenaal. Dit, gepaard met die spoed en brute krag van die res van die agterlyn maak Ben Vorster amper onstuitbaar in volle vaart.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first