Vier uit vier vir Vossie-krieket T20

07 November 2018  Read: 124

 

Die afgelope twee weke het die Hoërskool Ben Vorster se Eerste krieketspan die “Black Caps” vier T20-krieketwedstryde gespeel, wat deel vorm van die Nasionale Coca-Cola T20-skole kompetisie.  

Hul het hul eerste wedstryd teen Nkowankowa met 25 lopies gewen en Tebogo Mkhomazi is as speler van die wedstryd aangewys na hy drie paal-tjies vir slegs nege lopies geneem het in vier boulbeurte. Die Black Caps het gemaklik teen Giyani met agt paaltjies in hul tweede wedstryd gewen en Ernst van der Schuyff het drie paaltjies vir slegs vier lopies in twee boulbeurte geneem.  In hul derde wedstryd teen Stanford, moes die Black Caps tot die einde baklei en het hulle die spannende wedstryd met twee lopies gewen. Johan Harms het 87 lopies aangeteken van slegs 60 balle en Cobus Geldenhuys het drie paaltjies vir 19 lopies in sy vier boulbeurte geneem.

Op Vrydag, 26 Oktober, het die Black Caps te staan gekom teen hul bure, Merensky.  Ben Vorster het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Johan Harms het weereens goed gevaar met die kolf en het 81 lopies van 63 balle aangeteken. Die Black Caps het 142/3 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken. Merensky het gaan kolf en is almal uitgeboul vir 129 lopies. Cobus Geldenhuys se drie paaltjies vir 25 lopies in vier boulbeurte was die beste vertoning met die bal.  Die Black Caps het met 13 lopies gewen en is nog onoorwonne in die kompetisie met nog twee wedstryde oor in die rondomtalie fase, wat in Januarie 2019 hervat sal word.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first