Goeie wegspring vir Merensky

06 November 2018  Read: 114

 

Een en veertig van Hoërskool Merensky se atlete het op Saterdag, die 20ste Oktober, aan die jaarlikse Marius Lengton Atletiekbyeenkoms by HTS Tom Naudé in Polokwane deelgeneem.

Atlete van 16 skole regoor die kontrei het by hierdie voorseisoen oefenbyeenkoms deelgeneem. Merensky het algeheel vierde geeïndig.

Elandri Janse van Rensburg, ‘n toekomstige Plasie asook die huidige Suid-Afrikaanse O/12 spiesgooi kampioen, het sommer vroeg-vroeg haar merk gemaak toe sy as O/13-atleet saam met die O/14-groep deelgeneem het. Sy verdien goud in spiesgooi, nadat sy die spies 36.12m ver geplant het. Hiermee verdien sy 1029 punte op die ABSA-tabel. Sy wen ook Beste Dogtersatleet van die dag.

Nog ‘n paar uitmuntende prestasies is deur Leané Heydenrych, wat ‘n eersteplek opgeraap het met haar 1.55m sprong in die O/14 dogters hoogspring, en Ethan Herman, wat in die O/16 seuns spiesgooi ‘n goud huistoe gebring het. Sy afstand was ‘n allemintige 44.83m.

Merensky sien met verwagting uit na die 2019 atletiekseisoen, veral omdat die Interhoër in Februarie op Plasiepark gaan plaasvind.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first