Die plaaslike rugbyspeler Renzo Du Plessis van Ben Vorster-faam, het sy skrikbewind op die rugbyveld tydens die O/18 Cravenweek in Bloemfontein, in styl voortgesit.

As die Limpopo Blou Bulle se woelige nommer sewe flank, het Du Plessis die O/18 Cravenweek “Held van die Dag” toekenning vir sy uitsonderlike spel in sy span se eerste wedstryd by Grey College teen die Griekwas ontvang. Hierdie wedstryd is op die 2de Julie in ‘n snerpende koue Bloemfontein gespeel.

Limpopo se Blou Bulle het wel teen die Griekwas met 35-24 verloor, maar du Plessis se individuele spel en besonderse drie het aan hom hierdie toekenning besorg en sy naam vir ewig in dié toernooi se geskiedenis boeke neer gepen.

Sy 103m kraglopie vanuit die Limpopo Blou Bulle se doelgebied het die rugbywêreld se gemeenskap aan die gons gehad. Rugbykenners van die O/18 Cravenweek is van mening dat dié drie van du Plessis nog lank oor gepraat sal word.

Die vyfpunter het onstaan nadat die Griekwas op die aanval en reg voor die doellyn van die Limpopo Blou Bulle die bal aangeslaan het. Die Bulle was onder hewige druk op daardie tydstip nadat hulle losskakel, Divan van Zyl, ‘n rooi kaart vir sy dubbel geel kaart sowat 13 minute voor die eindfluit sou blaas, ontvang het.

Met 14-man het die span se heelagter, Brandon Cronjé, as losskakel ingestaan. Die Griekwas het begeesterd gedruk maar die Bulle se skrumskakel, KT Sono, kon daarin slaag om die bal te herwin.
Sono het die bal uitgegee na Cronjé en instede om te skop het hy egter besluit om die bal op sy doelgebied uit te gee. Du Plessis het die bal ontvang en van agter sy span se pale met sy 103m blitzkrieg begin.

‘n Aantal Griekwas verdedigers het na lug getas om hom te probeer keer. Du Plessis het die Griekwas se twee dekverdedigers met minag afgestamp om seer-sekerlik een van die Cravenweek se beste drieë ooit aan te teken.

Die Bulle het die eerste helfde met 14-0 agtergeloop nadat du Plessis en van Zyl beide geelkaarte ontvang het. Die Limpopo-span het egter na ‘n bitsige terugvegpoging met 24-21 voorgeloop. Van Zyl het op die aanval egter ‘n Griekwas verdediger met die elmboog in die gesig gestamp wat aan hom sy tweede geelkaart besorg het.

Dit het die Limpopo Blou Bulle op die agtervoet gesit en Griekwas het hierdie te kortkoming uitgebuit om uiteindelik met 35-24 te wen.

Renzo du Plessis het die tweede meeste drieë in die 2019 Cravenweek van al die spelers in drie wedstryde gedruk. Na sy skouspelagtige 103m drie, het hy die hele Suid-Afrikaanse rugbywêreld aan die praat gehad en het die opname van hierdie allermintige drie op Super Sport se sosiale media al meer as 137 000 kykers gelok.

“Eerstens het ek nie verwag om die bal te kry nie, maar toe ek die bal kry, wou ek net prober om oor die voordeellyn te kom. Ek het met alles in my gehardloop en die spasie het begin oopmaak,” vertel Du Plessis oor sy spoglopie. “Toe ek op die halflyn kom het instink oorgeneem en al wat ek toe kon sien was die doellyn voor my en hoe ek die drie gaan druk. Die res is geskiedenis.”

Du Plessis se belangstelling in rugby kom al van kindsbeen af. Hy vertel van die dag toe hy gebore was, hoe sy pa, ook Renzo, vir hom ‘n Springbok rugbybal in sy bababedjie gesit het.

“Toe my pa my die eerste keer gesien het, het hy gesê ek gaan eendag ‘n Springbok word. Ek het begin om bulletjierugby te speel toe ek drie jaar oud was in Pretoria, nogal teen 0/6 seuns. Ek het van vroeg af geleer dat om die beste te wees, moet jy harder as al die ander seuns werk”, het du Plessis vertel.
“Ek oefen feitlik die hele jaar deur, en kondisioneer my liggaam met ondermeer fiksheid, spoedwerk, sessies in die gimnasium, krag-oefeninge en baie visualiseringsoefeninge”.

Hy skryf meeste van sy sukses toe aan die afrigters in sy lewe wat hom geslyp het tot die speler wie hy vandag is. “Ek gee aan die Here al die eer toe vir my talente en vir die seëning om op die rugbyveld so goed te presteer. Sonder Hom is ek niks.”

Renzo du Plessis se rugbyprestasies:
0/12 Leeus-span (kaptein)
0/13 Limpopo Blou Bulle Craven Weekspan
Eerste span Laerskool Tzaneen (kaptein)
0/14 Ben Vorster (kaptein)
O/15 Ben Vorster (kaptein)
0/15 Ben Vorster Sewes-span (kaptein)
0/16 Limpopo Blou Bulle Grand Khomo-span (kaptein)
0/16 Ben Vorster (kaptein)
0/17 Limpopo Blou Bulle Sewes-span (kaptein)
0/16 SA Skole-span (Green Squad)
0/18 SA Skole sewesspan (Junior Blitzbokke)
0/18 Limpopo Craven Week span
2019 Cravenweek prestasies:
Dag 1 – Cravenweek Speler (Held) van die Dag (vir sy uitstaande 103m drie en uitstekende spel teen die Griekwas
Dag 2 – Speler van die Wedstryd teen die Goue Leeus 15-tal (Goue Leeus se B-span). Hy het in die wedstryd ook ‘n drie gedruk
Dag 3 - Hy druk drie drieë teen die Luiperds en is Limpopo Blou Bulle se enigste puntemaker in dié wedstryd.

 

 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first