Die krag van die Rooimasjien is die afgelope naweek wéér beklemtoon tydens ‘n Virsekerbeker kragmeting in Mpumalanga. Ben Vorster se rugbyspanne het die trek af Nelspruit toe meegemaak om teen die magtige Hoërskool Nelspruit te staan te kom in die Plaat afdeling van hierdie “beste-van-die-bestes” sportsreeks.

Die Vossies het verlede jaar in die halfeindstryd van die Virsekerbeker Skild afdeling met Middelburg afgereken om uiteindelik in Pretoria teen Oos-Moot vas te val in die eindstryd. Dit was die Vossies se enigste terugslag tydens hul 2018 Virsekerbeker veldtog en het hulle steeds bo aan die punte-leer geindig.

Asgevolg hiervan, is Ben Vorster vanuit die Skild- na die Plaat afdeling bevorder en het hulle vanjaar teen groter skole meegeding insluitend Nelspruit, Montana, Zwartkop, Eldoraigne, Rustenburg, Kempton en Marais Viljoen. Ben Vorster staan nou wéér bo aan die lys (tweede met ‘n wedstryd in hand) na hul oorwinnings die afgelope naweek en verseker dus vir hulself ‘n plek in die halfeindstryde van die O/15- asook die Eerstespan-kragmetings.

Dit beteken dat die naweek van die 3rde Augustus sal Ben Vorster op eie bodem teen Zwartkop te staan kom om te be-paal of hulle die halfeindstryd in Tzaneen, of weg sal speel. Ongeag die uitslae van die Zwartkop kragmeting is Ben Vorster steeds in die semifinaal.

Die naweek se Eerstespan Nelspruit-wedstryd was een waaroor daar al maande lank onder die plaaslike rugbyliefhebbers (en kenners) bespiegel is en is dus met valkoë deur beide dopgehou. Hierdie skrywer is bewus van ‘n paar manne wat so paar Rand ryker geword het te danke aan Meyer Vorster se strafskoppie so teen die einde van die dinge…

Dit was ‘n ongelooflike moeilike stryd en een wat die Vossies nie kon bekostig om te verloor nie - ‘n terugslag sou die einde van hul 2019 veldtog beteken. Dinge het egter nie belowend vir die Tzaneeners begin nie en met halftyd is hulle met ‘n 14-21 agterstand die kleedkamers in.

Na die blaaskans het ‘n ander span egter die veld betreë en skielik het dit baie duidelik geword dat die besoekers nie bereid was om leëhande terug te keer huistoe nie. Met die terugkoms van een van hul sleutelspelers, Christiaan Smit op buitesenter gesteun deur die ewe vinnige Meyer Vorster (ook terug na ‘n knie bese-ring) op heelagter, kon die Vossies weer op hul blitsvinnige agterlyn staat maak en is die druk so ietwat vanaf die skouers van die voorspelers gelig.

Met slegs 10 minute se spel oor het Ben Vorster twee vinnige drieë en ‘n strafskop deurgewerk om uiteindelik die wedstryd met 35-33 te wen. Die puntemakers op die dag was Nathan van den Heever met twee drieë, Christiaan Smit, Sean Roulston en Louis Koen met ‘n drie elk en staatmaker op die dag, Meyer Vorster, wie twee strafskoppe en twee doelskoppe deur die mikke gejaag het.

Dit wil voorkom of Vossie-breier Peter Schutte se strategie daarvan afhang om hul teenstanders met ‘n valse gevoel van gemak te sus en wanneer dit die minste verwag word, van agter af met ‘n blitzkrieg in die doodsnikke van die wedstryd te oorrompel. Dit werk elke keer, maar wragtig, dit maak die senuwees lam!

Wat nie gaan help vir die “nerves” nie, is die feit dat die Vossies in hul halfeindstryd sowel as hul eindstryd sonder Renzo Du Plessis sal moet klaarkom. Dié blok van ‘n  flank sal op die 3de Augustus vertrek om by die SA-Skole A-span aan te sluit wat op die 9de Augustus teen Frankryk sal opdraf.

“Renzo is wel een van ons sleutelspelers en sy posisie in die span sal verseker gemis word, maar ons hou vir hom duim vas vir sy debuut in die groen en goud. Wat ‘n uitmuntende prestasie is dit nie om jou land te verteenwoordig? Die res van die span is sterk genoeg om Renzo se plek te vul tot sy terugkeer so ons is reg vir die stryd,” het Schutte bygelas.

Tzaneen word uitgenooi om die Rooies te kom ondersteun in hul kragmeting teen Zwartkop op die 3de Augustus hier op eie bodem.

 

 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first