Letaba Rugbyklub het Saterdag die 27ste Julie op Tzaneen gasheer gespeel teen die besoekende spanne van Noordelikes Rugbyklub uit Polokwane in die laaste-rondte wedstryde van die Limpopo amateurliga se kampioenskap.

Letaba se Eerste- en Tweedespanne het met naelbyt seges hul teenstanders die loef afgesteek. Die gasheer se Derdespan het nouliks verloor met 27-23 toe Noordelikes in die doodsnikke van hierdie kragmeting met ‘n strafskop geslaag het. Beide spanne was met 24 punte gelykop voor Letaba ‘n strafskop ontvang het.

Letaba se eerstespan het weereens bewys dat hulle ‘n span is om moeilik op hul tuisveld geklop te kan word. Die groentruie het rotsvas verdedig en hul balbesit beter gebruik om uiteindelik met 15-8 te wen. Noordelikes het slegs ‘n onverdoelde drie en ‘n strafskop vir hul agt punte aangeteken.

Tzaneen se agtsteman, Nhlangganiso Sibanda, en heelagter, Carel O’Neill, het elk vir ‘n drie agter die pale gaan kuier. Tian Knoetze op buitesenter het die stelskoppe waargeneem en het een drie verdoel en met ‘n strafskop geslaag.

Letaba se Tweedespan het bygedra tot die afrigters en ondersteuners se afgekoude naels. Hierdie tweedeligaspan was deurentyd in ‘n hewige tweestryd met Noordelikes gewikkel. Met die skeidsregter wat skril op sy fluitjie die einde van die wedstryd aangedui het, is dit Letaba wat met ‘n skrale punt die wedstryd beklink het. Die telling vir die tweedeliga stryd was 27-26.

Al drie Letaba se spanne het na Saterdag se vertonings hul plek in die halfeindstryd in Polokwane verseker wat op die 17de Augustus gespeel gaan word. Letaba sal dan in sy eersteliga halfeind teen Louis Trichardt te staan kom. Die Tweedespan gaan na Saterdag se naelskraapse oorwinning wéér met Noordelikes in die halfeindrondte kragte moet meet om te sien wie na die eindrondte gaan deurdring.

Die Derdespan, ondanks hul verloorslag Saterdag, se oë sal na die eindrondte gerig wees maar sal éérs teen die span van Kruinies Rugbyklub van Polokwane moet slag bied om deur te kan dring.

Hou hiérdié koerant dop vir al die hoogtepunte en wedstryd verslae. Bulletin staan bankvas agter ons Letaba Bosbokke.

 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first