Na ‘n harde rugbyseisoen in ‘n hoër liga van een van die land se taaiste skolerugby reekse, het Ben Vorster voor verlede naweek ‘n tuis-halfeinstryd in die Virsekerbeker Plaat Afdeling ingepalm.

Die Rooimasjien het voorwaar uiteghaal en gewys toe hulle die spanne uit Centurion die stryd in die Buffelkraal aangesê het. Dit was geensins ‘n maklike dag op die veld nie. Die Zwartkop-manne was slaggereed met alles om te verloor en nog meer te bewys in wat vir meeste van hulle moontlik hul laaste wedstryd van die jaar sou wees.

Ben Vorster se O/14’s het die dag geopen met ‘n 19-3 oorwinning oor die besoekers waarna die O/15’s met 0-17 teen Zwartkop vasgeval het. So ook het die plaaslike O/16-span met 14-26 die knieë gebuig. Die Nyathi’s (Ben Vorster se Tweedespan) het met 72-0 hul opponent oorrompel om die tafel mooi te dek vir die groot stryd van die dag wat later die middag afgeskop het.
Alle oë was op die Eerstespan van die Vossies gerig wat die 15-tal van Zwartkops ‘n behoorlike rugbyles geleer het. Die Vos-sies het die toeskouers en sy ondersteuners met aanskoulike hardlooprugby trakteer en behoorlik sirkels om Zwartkops gehardloop. Teen die einde van spel het die Vossies ‘n allemintige 15 drieë gedruk om ‘n weghol sege van 95-24 te behaal.
Hierdie reuse oorwinning het Ben Vorster van ‘n halfeindstryd tuis verseker. Hierdie halfeindstryd word Saterdag die 10de Augustus (hierdie naweek) beslis waar die Vos-sies teen die span van Hoërskool Rustenburg te staan gaan kom.
Die Vossies se rits drieë is gedruk deur Zian van den Heever (3), Renzo du Plessis (2), Nathan vd Heever (2), Matome Manyama, Gavin Rautenbach, Rikus Nel, Doran Kleynhans, Dean Ballentyne, Louis Koen, Sean Roulston en Meyer Vorster. Die doelskoppe was deur Zian van den Heever (5), Meyer Vorster (4) en WC Kriel (1) oorgeskop.
Ben Vorster se O/15-span is een van die twee Vossie spanne wat deurgedring en gekwalifiseer het vir ‘n tuis halfeindstryd die komende naweek. Hulle sal teen die span van Marais Viljoen uit Alberton moet slag bied.
Dit is die tweede jaar agtereenvolgens dat Ben Vorster die gasheer van ‘n Virseker Beker halfeindstryd sal wees. Verlede jaar was dit vir die Skild Afdeling en vanjaar vir die Plaat Afdeling.
Hoe ook al die uitslae Saterdag gaan eindig, die eindstryde sal by Marais Viljoen in Alberton gespeel word aangesien dit meer geleë vir Kyknet se tv-span sal wees om hierdie wedstryde uit te kan saai.
Met die Letaba Skou wat reeds Woensdag afgeskop het en die spanne van Rustenburg en Marais Viljoen wat reeds hier in Tzaneen aangekom het, beloof die naweek se rugby om groot skare te lok. Tzaneen word gemaan om hul plaaslike spanne te gaan ondersteun op Buffelpark sodat die manne in die finaal later hierdie maand in Gauteng vir die sil-
werware kan gaan stry.
“Ons is slaggereed vir hierdie kragmeting en ten spyte daarvan dat ons sonder Renzo Du Plessis gaan moet klaarkom, is die res van die manne meer as bevoeg om die stryd na Rustenburg toe te bring,” het eerstespan afrigter Peter Schutte gesê. “Dit gaan taai wees, maar ‘n Vossie staan nie terug vir taai nie.”
Victor Schultze, adjunkhoof sport by Hoërskool Rustenburg het aan Bulletin gesê dat hulle baie uitsien om teen die Vossies op Tzaneen uittedraf. “Dit is hoekom ons hierdie game speel, om onself teen die bestes te meet. Ben Vorster is een van die bestes en jy gaan nie sommer Tzaneen toe om teen Ben Vorster te wen nie. Dit gaan ‘n moeilike stryd wees maar ons is reg daarvoor.”
Volgens Reghardt Kleingeld, afrigter van die O/15-span is dit altyd moeilik om ‘n uitslag van enige wedstryd vooraf te bespiegel. “My span is reg en hulle koppe is reg. Marais Viljoen gaan verseker vergelding soek nadat ons hulle voorheen geklop het, maar ons is reg daarvoor. Kom ons kyk Saterdag.”
Johan Matthyssen en Rikus Woest, afrigters van die Marais Viljoen O/15-span reken hulle span is reg om die Vossie moonthede die stryd aan te sê. “Tydens ons laaste wedstryd het Ben Vorster op ons velde verloor so ons is oortuig daarvan dat hulle alles hierdie naweek na ons kant toe gaan gooi so dit gaan ‘n klipharde wedstryd wees. Marais Viljoen weet wat op ons wag en ons is reg vir die naweek.”

 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first