Die afgelope naweek se eerste jaarlikse Vossie Fees het vir groot sport op die rugbyveld en hokkie- en netbalbane gesorg met skole van regoor die provinsie wat hier in Tzaneen kom kragte meet het.
Die Limpopo wintersport toernooi word elke jaar gespeel om die einde van die seisoen aan te kondig en vanjaar is die Vossie Fees as die verhoog vir hierdie skouspel gebruik.

Op die rugbyveld is daar reeds van Vrydagmiddag af, Sewes rugby in twee ouderdomsgroepe naamlik die juniors (O/15’s) en seniors (O/17’s) gespeel. Die gasheer, Hoërskool Ben Vorster, is in beide hierdie ouderdomsgroepe as die kampioene van hul onderskeie divisies gekroon.

Die juniorspan het in die kwarteindstryd van die O/15 Beker divisie met die Hoërskool Hans Strijdom met ‘n telling van 28-5 afgereken om teen hul bure, Hoërskool Merensky, in die halfeindstryd te staan te kom.

Die Plasies het nie die beste van naweke gehad nie en moes die knie buig om die Vossies deur te stuur eindstryd toe waar hulle vir Piet Potgieter in die oë moes kyk. Ook hier het die Vossies hul teenstaanders kafgedraf met ‘n telling van 24-0 om te verseker dat die silwerware vir die derde agtereenvolgende jaar in Tzaneen agter bly.

In die senior toernooi het Ben Vorster al hulle groep wedstryde gemaklik gewen om in die Beker halfeindstryd teen HTS Tom Naudé op te draf. Hierdie wedstryd het die gasheer oortuigend met ‘n telling van 42-0 gewen om deur te dring tot die eindstryd teen Ellisras wat hule ook gemaklik gewen het om die 2019 Beker trofee te lig.

Hoërskool Piet Potgieter se O/15-span en Hoërskool Ellisras se O/17-span het saam met Ben Vorster gekwalifiseer om oor twee weke aan die Noordvaal sewes deel te neem.

 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first