Die jaarlikse Wintersportbyeenkoms teen die Hoërskool Frans du Toit van Phalaborwa, wat as een van die grootste geleenthede op die jaarprogram van die Hoërskool Merensky beskou word, het Saterdag die 14de Maart plaasgevind.

Hierdie jaar se geleentheid is veral oorheers deur die glansryke opening van Merensky se langverwagte dog indrukwekkende nuwe astro-hokkiebaan.

Met die opening van dié nuwe Astro-baan, was die toeskouers be-derf met aanskoulike sewe aan ‘n kant (sewes hokkie) wedstryde deur die loop van die dag. Selfs ‘n reënbui later die dag na die snikhete hitte kon nie die gees van die talle hokkiespelers in aksie verhoed om die nuwe baan ten volle te benut nie.

Die Plasie-bokkies hokkiespan oftewel die O/14-span het gespog met ‘n 5-0 wen. Die O/15-span het met 6-0 gewen en die eerstespan het in albei hul wedstryde met 3-1 en 4-0 oorwinnings gespog.

Alhoewel Merensky se twee sokkerspanne die spit moes afbyt teen Frans du Toit, het die rugby- en hokkiespanne hul seisoen op ‘n wennoot begin.

Op die rugbyveld het die Plasies se eerstespan na ‘n harde fisieke wedstryd die span van Frans du Toit nouliks uitoorlê om met 15-11 die wedsyryd in hul guns te swaai. Merensky se puntemakers was Tiaan Tonsing, Brett Richter en Ruan van der Schyff.

Die tweedespan het hul wedstryd oorheers en het ‘n oorwinning van 45-22 behaal. Die O/14A-span het eenvoudig rugbylesse gegee deur hul wedstryd met 59-5 te wen. Die O/15A-span het met 27-7 in hul wedstryd geseëvier. Die O/16A-span het Frans du Toit se span met 45-15 geklop. Foto’s: Roelof de Jonge

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first