‘n Atleet van die Laerskool Dr Annecke op Letsitele, San-Mari Steyn, het vanjaar ‘n besonderse suksesvolle seisoen tot dusvêr op die atletiekbaan beleef.

By dié skool se Interhuisbyeenkoms op die 24ste Januarie het die kranige O/13 atleet, alhoewel sy eers in Oktober 13 jaar oud word, haar voornemens duidelik gemaak dat sy dop gehou moet word vir die toekoms toe sy twee rekords verbeter het.

Haar Ma Su-Mari wie self ‘n kranige atleet op skool was, moedig haar aan en help selfs om haar tuis af te rig. Steyn het by die Interhuisbyeenkoms in veral die 200m wedlope gewys sy is ‘n krag om mee rekening te hou. Sy het die rekords vir die 200m (sedert 2008) en 200m hekkies (van 2017) items verbeter.

Op die 1ste Februarie by die Tzaneen A-span byeenkoms (uitdunne vir keuring vir die Mopani Distriktespan) by Unicorn Preparatory School het Steyn die 200m-item gewen en sodoende ook die rekord van sedert 2015 verbeter.

By die Interlaer-byeenkoms op die 15de Februarie wat vanjaar deur die Laerskool Phalaborwa-Noord aangebied was, het Steyn twee eerste en twee tweede plekke behaal en was as die Senior Victrix Ludorum Atleet aangewys.

By die Mopanie Distrik se byeenkoms wat by die Laerskool Tzaneen op die 14de Februarie gehou was, ‘n dag voor die Interlaerbyeenkoms op Phalaborwa, het Steyn loshande in die 200m hekkies-item gewen om haar plek in die Mopani-span te verseker.

Vir die Mopani Distrikte-span by die Limpopo kampioenskap wat op die 21ste Februarie in die Peter Mokaba Stadium in Polokwane gehou was, het Steyn ‘n derde plek in die 200m hekkies item behaal.
“Sy het ongelukkig uitgeval om verder voort te gaan om Limpopo te kan verteenwoordig, maar ons gaan skouer aan die wiel sit om seker te maak dat sy volgende jaar verder as die Limpopo-kampioenskap vorder”, het Steyn se Ma Su-Mari gesê.

“Ek sal graag as ek klaar is met laerskool vanjaar volgende jaar na die Hoërskool Merensky toe wil gaan. My droom is om eendag aan die Olimpiese Spele te kan gaan deelneem”, het Steyn gesê.

Steyn vind ook inspirasie uit die internasionale 100m atleet en wêreldkampioen van 2011 en 2017, Sally Pearson vanuit Australië. Pearson het ook die goue medalje in die 2012 100m hekkies by die 2012  Olimpiese Spele verower.

“Ek dink sy is baie goed en ek hou daarvan om na haar DVD’s en Videos te kyk. Ek leer baie daar uit hoekom sy so goed is en sal graag so sy eendag wil wees”, het Steyn gesê.

Steyn se atletiekloopbaan was egter in 2018 so hittete kortgeknip, alhoewel haar netbalseisoen vir daardie jaar wel neusie verby was. Sy het saam met maatjies gespeel en gegly waar sy haar voet- en enkelligmente geskeur het. Daar was aanvanklik gedink dat Steyn se besering haar sou verhoed om weer aan atletiek te kan deelneem.

Steyn was egter gelukkig om ten volle van haar besering te herstel en voort te kan gaan om die atletiekbaan aan die brand te hardloop.

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first